Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Manjezi ‘het nie ingestem om ’n Cheetah te bly’

Die gort is gaar oor wie aan die einde van Oktober oor die dienste van die Cheetah-slot Sintu Manjezi gaan beskik.

Sintu Manjezi het naam gemaak in die Pro14-reeks saam met die Cheetahs. Foto: Gallo Images

Volgens ’n berig Sondag in Rapport weier die Cheetahs om Manjezi vry te stel om vir die Bulle te speel, omdat hy ’n bindende kontrak van twee jaar met die Vrystaatse unie gesluit het.

Die vuurvreter-slot se toekoms gaan volgens dié berig nou in ’n arbitrasiesaak beslis word. Die unie meen Manjezi het ’n aanbod aanvaar om ná Oktober steeds sy rugby in Bloemfontein te speel, en dat hulle ’n bindende ooreenkoms het, al het Manjezi nie ’n kontrak onderteken nie.

Manjezi het Sondag alle navrae na sy agent, Dane Galley, verwys. Volgens Galley het Manjezi nie ingestem om ’n Cheetah te bly nie.

“Sintu het die aanbod op geen manier aanvaar nie,” het Galley in ’n skrywe aan Netwerk24 gesê. “Jy kan my daarop aanhaal: Sintu het nooit (’n kontrak) geteken of ingestem tot ’n verlenging (van sy bestaande Cheetahs-kontrak) nie.

“Ons is tevrede daarmee om vir arbitrasie te gaan. Sodra dit afgehandel is, sal ons sy volgende skuif bespreek. Die Cheetahs se aksies is werklik teleurstellend.”

Daar was vroeër sprake dat Manjezi na die Westelike Provinsie sou gaan nadat sy kontrak in Bloemfontein verstryk, maar so ’n skuif is intussen van die baan.

Nou staan sy kop Pretoria toe, om deel van Jake White, die Bulle se nuwe direkteur van rugby, se Loftus-planne te vorm.

Indien Manjezi wel in die hoofstad gaan nes skrop, sal dit ’n uitstekende aankoop deur White wees.

White het reeds nog ’n slot van die Cheetahs, Walt Steenkamp, na Loftus Versfeld gelok. Steenkamp meld op 1 November aan.

Sou Manjezi ook koers kies, sal die Cheetahs ná Oktober twee spesialis-slotte in JP du Preez en Justin Basson hê. Vroeër is bespiegel dat die Cheetahs se hoofafrigter, Hawies Fourie, ook die flanke Oupa Mohoje en Aidon Davis na slot wil skuif.

Daar is egter nog nie sekerheid oor Mohoje se planne nie. Sy kontrak verstryk aan die einde van vandeesmaand en hy het nog nie aangedui wat sy volgende skuif is nie.

Davis het intussen ’n tuiste op agtsteman gevind.

Basson het van ’n langtermynbesering herstel voor die inperking, maar kon nog nie weer plek in die span kry nie.

Meer oor:  Kontrak  |  Pro14  |  Sintu Manjezi  |  Cheetahs  |  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.