
Josh Ioane, losskakel van Moana Pasifika, word platgetrek deur ’n paar Maori All Blacks. Foto: Getty Images
Die Maori All Blacks het Saterdag in ’n geskiedkundige kragmeting op FMG-stadion in Waikato, Hamilton, ’n oorwinning met 28-21 teen Moana Pasifika behaal.
Die gasheer, aangevoer deur sy inspirerende kaptein, Ash Dixon, het vier drieë teenoor die besoekers se twee gedruk.
Die Maori’s het danksy ’n stewige vertoning in die tweede helfte die wa deur die drif getrek. Moana Pasifika het teen rustyd met 9-7 voorgeloop.
Die wedstryd is voor ’n uitbundige Hamilton-skare van 7 412 toeskouers gespeel om die Nieu-Seelandse rugbyseisoen op ’n vermaaklike noot af te sluit.
• Puntemakers:
Maori All Blacks 28 (7) – Drieë: Kaleb Trask, Ash Dixon, Billy Proctor, Mitchell Karpik. Doelskoppe: Trask (4).
Moana Pasifika 21 (9) – Drieë: Alamanda Motuga, Dwayne Polataivao. Doelskop: Josh Ioane. Strafdoele: Ioane (3).