Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Mapstieks, Makazole Mapimpi!

Die Haaie skakel van verdediging na aanval oor so vinnig en seepglad as wat ’n renjaer van ratte verwissel.

Dit is die hulpafrigter, Brent Janse van Rensburg, wat dit aandryf, sê die breier, Sean Everitt.

Makazole Mapimpi het so byna ’n driekuns aan drieë behaal in die Haaie se Superrugby-kragmeting teen die Rebels gister in Ballarat. Foto: Getty Images

“Die teenaanvalle en drieë is weer te danke aan ons verdediging,” sê Everitt.

“Janse van Rensburg verdien ’n pluimpie vir die uitstekende werk wat hy in dié verband verrig.”

Aanvallende flair is so volop in dié Haaie-span dat dit vergoed vir groot gebreke wat enige ander span sou lamlê. Bygesê, twee twyfelagtige drieë is toegeken aan die Haaie, wat die getwis oor die gehalte van blasers in Superrugby verder sal aanblaas.

Daardie flair, tesame met hul opskietverdediging, het die Haaie gister in die Australiese stad Ballarat gehelp om hul tweede oorwinning (36-24) op hul Superrugby-toer te behaal. Hul dissipline was weer swak, maar hul agterlyn met meer sterre as Hollywood se Walk of Fame het die oorwinning oor die Rebels verseker.

“Die oorwinning was belangrik ná die kritiek wat ons moes verduur oor die nederlaag teen die Hurricanes,” sê Everitt.

André Esterhuizen het ’n kapteinsbeurt op binnesenter gespeel en Sikhumbuzo Notshe en James Venter was die beste voorspelers.

“Notshe speel bestendig goed vanjaar. Hy is ’n belangrike skakel tussen voor- en agterspelers en as baldraer.”

Gepraat van agterspelers: Hoe goed is die Haaie se agterste driehoek nie? Aphelele Fassi, Makazole Mapimpi en Madosh Tambwe het die toeskouers in die Mars-stadion met vaart soos Usain Bolt s’n in vervoering gehad. Fassi is ’n towenaar.

Die steekskoppie wat tot Mapimpi se eerste drie gelei het, is ’n sprekende voorbeeld. Mapimpi sou drie drieë gedruk het as hy nie sy derde onselfsugtig prysgegee het en die bal agter die doellyn vir Curwin Bosch gegooi het om te druk nie.

Die Rebels is die eerste span wat die Haaie met opskietverdediging van hul eie aangevat het.

Die Durbaniete het dit verwag.

Hulle het hul aanvalle in twee vlae opgebreek – die eerste ontvanger, gewoonlik die losskakel, Bosch, het die bal van die skrumskakel ontvang en dan onmiddellik na ’n tweede ontvanger veel dieper as hy laat loop.

Die bal is dan vinnig na die agterlyn versprei. Die taktiek het gemengde welslae behaal.

Die negatiewe sy is ooglopend – as die teenstanders jou dan vang, is jy ver agter die voordeellyn. Maar die Haaie het soveel vaart op die punte dat hulle gereeld eenvoudig rondom die Rebels kon hardloop.

In die eerste helfte het die Haaie ook met rolskoppies probeer om die Rebels se verdedigingslinie onkant te vang.

Die twee geelkaarte kort ná mekaar het ons onder geweldige druk geplaas

Die Rebels het dieper probeer speel om die Haaie se vinnige verdediging te kelder, maar het eenvoudig nie die skietgoed gehad nie.

Everitt sê hulle het hard aan hul vaste fasette gewerk. Die skrums was goed en die lynstane beter, hoewel daar steeds ’n paar balle verlore gegaan het.

Punte:


Rebels 24: Drieë: Marika Koroibete, Isireli Naisarani, Anaru Rangi. Doelskoppe: Andrew Deegan (3).  Strafdoel: Deegan.

Haaie 36: Drieë: Makazole Mapimpi (2), André Esterhuizen, Madosh Tambwe, Curwin Bosch. 
Doelskoppe: Bosch (3). Strafdoel: Bosch.


Die Haaie se dissipline is steeds ’n probleem. Hulle het vir vyf minute in die tweede helfte met 13 spelers gespeel nadat Kerron van Vuuren (gevaarlike duikslag) en Tambwe (herhaaldelike spanoortredings) geelkaarte gekry het.

“Die twee geelkaarte kort ná mekaar het ons onder geweldige druk geplaas. Gelukkig was ons in staat om die aanslag suksesvol af te weer en ons het net een drie in daai tyd afgestaan.”

Dit was nie die skeidsregter, AJ Jacobs, se beste vertoning nie. Hy het verskeie vorentoe-aangeë oorgesien en ook ’n paar vreemde beslissings op die voordeellyn en by die afbreekpunte gemaak.

Tambwe se drie het gevolg ná ’n vorentoe-aangee van Bosch, maar die Australiese TV-skeidsregter, George Ayoub, het besluit die drie moet toegeken word.

Mapimpi se tweede drie moes ook nie toegeken gewees het nie. Hy het die bal kort geplant. Jacobs het weer die hulp van Ayoub ingeroep, wat nie “genoeg bewyse” kon vind om Jacobs se beslissing om te keer nie.

Die Rebels se uitvoerende hoof, Baden Stephenson, het in die week gekla omdat plaaslike blasers besoekers erg straf wanneer hulle in Suid-Afrika speel.

Dink net hoe gaan hy swets oor Jacobs se vertoning op Aussie-bodem.

Die Haaie sluit hul toer volgende week teen die Reds af.

Meer oor:  Haaie  |  Brent Janse Van Rensburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.