Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Eie aanhangers 'saboteer' Poemas

Die Poemas glo hul kaptein, Pablo Matera, se destydse rassistiese en xenofobiese twiets is deur ontevrede Argentynse aanhangers opgediep in ’n poging om dié rugbyspan te saboteer weens sy oënskynlike gebrek aan respek vir die ontslape Diego Maradona.

Nieu-Seeland se kaptein, Sam Cane, en die All Blacks se huldeblyk aan Diego Maradona het volgens baie Argentyne die Poemas se poging oorskadu. Foto: Getty Images

Die Argentynse Rugbyunie (UAR) het Dinsdag bevestig Matera is van sy kapteinskap gestroop en saam met sy spanmaats Guido Petti en Santiago Socino geskors weens hul “onaanvaarbare” uitlatings jare gelede op sosiale media.

“Die Argentynse Rugbyunie verwerp die diskriminerende en xenofobiese uitlatings deur lede van die Poemas-groep op sosiale media,” het die UAR in ’n verklaring gesê.

“Hoewel dié boodskappe tussen 2011 en 2013 gedeel is, veroordeel die Argentynse Rugbyunie enige uitsprake van haat en ons beskou dit as onaanvaarbaar dat diegene wat dit uitspreek, ons land verteenwoordig.”

Pablo Matera se heldedade in die Poemas se geskiedkundige oorwinning oor die All Blacks aan die begin van die Drienasies-reeks is nou lank vergete. Foto: Getty Images

Die Sydney Morning Herald berig die werklike rede hoekom die Poemas glo die twiets het jare later weer aan die lig gekom, is weens die persepsie van sommige aanhangers dat die span nie genoeg gedoen het om behoorlik hulde te bring aan die Argentynse sokkerlegende Maradona ná sy dood verlede week nie.

Die neerhalende uitlatings op Twitter is onder die publiek se aandag gebring glo om die span weens sy oënskynlike minagting van Maradona se afsterwe te saboteer.

Die Poema-spelers het in hul huldeblyk aan Maradona Saterdag swart armbande gedra in die Drienasies-toets teen Nieu-Seeland, maar die All Blacks het die kalklig gesteel deur ’n nr. 10-trui met die ontslape 60-jarige ikoon se naam agterop op die veld neer te lê voordat hulle die haka uitgevoer het.

Die Argentyne gaan gebuk onder kritiek op sosiale media nadat hulle met 38-0 afgeransel is, met baie aanhangers wat ontstoke is oor die span se skynbare gebrek aan respek teenoor Maradona.

“Ons weet hoe baie Diego vir julle gedoen en wat hy verteenwoordig het. As ’n stuk kleefband jul huldeblyk aan hom was, dui dit uiteraard op ’n gebrek aan respek,” het ’n omgekrapte Argentyn op sosiale media gesê.

“Doen die huldeblyk op die veld, soos dit hoort. Hulle moes eers deur die hele Argentinië verwerp word om hul fout te besef,” meen nog ’n aanhanger.

Reuters berig Matera, Petti en Socino sal by die Argentynse groep aanbly tot aan die einde van die toer in Australië.

Die spanbestuur het geweier om uit te brei oor die dissiplinêre proses teen die drie spelers.

Matera het Maandag saam met die span in ’n video om verskoning gevra vir hul louwarm huldeblyk aan Maradona, maar dit was nie genoeg om sommige van hul landgenote tevrede te stel nie.

Een van Maradona se voormalige nasionale spanmaats, die doelwagter Nery Pumpido, tel onder diegene wat in die openbaar gesê het hulle sal nooit weer na ’n Poema-wedstryd kyk nie.

– Sportredaksie

Meer oor:  Diego Maradona  |  Xenofobie  |  Drienasiesreeks  |  Pablo Matera  |  Toetsrugby  |  Mario Ledesma  |  Rassisme  |  Poemas  |  All Blacks  |  Sokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.