Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Marcell bly hoop op kans by Bokke

Ofskoon die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, verlede week laat blyk het dat hy genoeg oorsese spelers by die Bokke betrek het, is die losvoorspeler Marcell Coetzee steeds hoopvol dat hy weer die Groen-en-goud oor die kop kan trek.

Marcell Coetzee op die aanval vir die Springbokke in ’n Rugbykampioenskapstoets teen Argentinië in Durban in 2015. Foto: Getty Images

Die 27-jarige Coetzee, met 28 toetse op sy kerfstok, speel die laaste paar seisoene vir die Ierse provinsie Ulster.

Hoewel Erasmus hom nie sedert sy aanstelling by die Springbokke betrek het nie, het hy nog nie die hoop laat vaar dat hy nog ’n uitverkorene vir volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan kan wees nie.

“Ek dink daar kan nog baie dinge gebeur voor die Wêreldbeker-toernooi, soos byvoorbeeld beserings en nuwe sterre wat hulle hande opsteek. Maar ek glo dat Rassie weet wat hy wil hê en die huidige groep verteenwoordig meeste daarvan,” sê Coetzee, wat die seisoen weer ’n barshou vir Ulster in die Pro14-reeks speel nadat hy van ’n kniebesering herstel het.

Coetzee erken dit is vir hom sleg om nie deel van die huidige Bok-groep te wees nie, maar hy is nog glad nie op moedverloor se vlakte nie.

“Die geesdrif vir die Springbokke sal altyd in my brand en my net motiveer om harder te werk en my spel te verbeter.”

Marcell Coetzee in aksie vir Ulster teen die Cheetahs in die Pro14-reeks vroeër vanjaar in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Die Springbokke het vanjaar onder Erasmus gemengde welslae behaal. Hulle het ’n reeksoorwinning oor Engeland in Suid-Afrika en ’n oorwinning in die Rugbykampioenskap oor die All Blacks in Wellington aangeteken.

Coetzee glo die Bokke is op die regte pad in die aanloop tot die toernooi in Japan.

“Ek dink hierdie gaan die mededingendste Wêreldbeker-toernooi tot nog toe wees, met al die spanne van die eerste gekeurde (Nieu-Seeland) tot die agtste gekeurde (Frankryk), wat ’n baie goeie kans het om die toernooi te wen.

“Ek glo ons is op die regte pad en maak regmerkies langs die belangrike boksies in ons voorbereiding vir die toernooi.”

En glo hy Erasmus is die regte man in die saal om die Springbokke na nuwe hoogtes te neem?

“Die hele Suid-Afrika moet Rassie en sy bestuurspan ondersteun. Hulle het in ’n kort tydjie reeds baie vermag en ek, en elke Springbok-ondersteuner, hoop dat hulle, hul beste peil sal bereik wanneer hulle die Wêreldbeker-toernooi ingaan,” sê Coetzee.

Die oorsese spelers wat tans by die Bokke betrokke is, is Willie le Roux (Wasps), Faf de Klerk (Sale), Vincent Koch (Saracens), Franco Mostert (Gloucester) en Francois Louw (Bath), wat almal hulle rugby in Engeland speel. Dan is daar Cheslin Kolbe (Toulouse, Frankryk), Duane Vermeulen (Kubota Spears, Japan) en Gio Aplon (Verblitz, Japan).

Ander oorsese Springbokke wat dalk nog in Erasmus se visier kan wees, is Frans Steyn, Jan Serfontein en Bismarck du Plessis (almal Montpellier) en die skrumskakel Cobus Reinach (Northampton).

Meer oor:  Ulster  |  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Pro14  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Marcell Coetzee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.