Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Marcell het so byna sy stewels opgehang

Toe Marcell Coetzee op 8 Augustus 2015 op Kingspark in Durban van die veld gestap het ná die verloortoets teen Argentinië, het hy nie vir een oomblik gedink dit is dalk sy laaste verskyning in ’n Springbok-trui nie.

Ná ’n paar ernstige kniebeserings en etlike jare in die toetswildernis, het Marcell Coetzee nie gedink hy sou vanjaar weer die Springbok-trui oor sy kop trek nie. Foto: Gallo Images

Hy was toe 24, het reeds 28 toetse gespeel en in die fleur van ’n loopbaan wat hope belofte ingehou het.

Coetzee was die volgende twee seisoene nooit deel van die vorige Bok-afrigter, Allister Coetzee, se planne nie nadat twee groot kniebeserings in Ierland oor sy pad gekom het.

Verlede seisoen het dit ook nie gelyk asof hy op Rassie Erasmus se radar is nie.

Hy is wel vroeër hierdie seisoen in die Bokke se groep ingesluit en draf Saterdag vir die eerste keer sedert daardie dag in Durban weer in die beginspan op wanneer die einste Poemas op Loftus Versfeld gepak word.

“As julle my ’n jaar gelede gevra het of ek hier sou sit en met julle ouens (die media) gesels, sou ek gesê het daar is geen kans nie,” sê hy.

“Dit is ’n wonderlike reis vir my tot hier. Daar was verlede jaar ’n tyd toe ek daaraan gedink het om uit te tree met al die beserings wat ek gehad het. Ek is in dié stadium dankbaar vir elke geleentheid en minuut op die veld.”

Coetzee sê hy ag homself baie gelukkig om deel van die groep te wees.

“Dit is fenomenaal om die laaste agt weke deel hiervan te wees. Jy kan die kultuur wat geskep is, sien en die vrugte wat daarvan gepluk word. Die omgewing is ongelooflik – of jy hier of oorsee speel, almal kom goed oor die weg en het dieselfde doel en droom vir die span. Ek dink dit is die diepte in die groep wat die span tans gedug maak.”

En wat dink hy van Saterdag se Springbok-span?

“Die span wat die naweek speel, is ’n mededingende een en daar is regdeur goeie spelers.”

Marcell Coetzee op die oefenveld saam met Kwagga Smith. Foto: Getty Images

Dié oudbaljagter van die Haaie wat sedert 2016 vir die Ierse klub Ulster speel, was ook in 2015 in die wedloop om Suid-Afrika by die Wêreldbeker (WB)-toernooi in Engeland te verteenwoordig.

Hy het egter net-net ’n plek in die groep misgeloop.

Coetzee is filosofies oor sy kans om later vandeesmaand die uitsoekgroep vir die 2019-toernooi te haal.

“Ek is net dankbaar vir die geleentheid, vir die kans om myself te bewys. Jy kan jou beste gee, maar op die ou end is dit nie in jou hande nie. Daar is ’n groter prentjie en jy wil graag jou land tot die beste van jou vermoë verteenwoordig.”

Hoe het hy sy verbete stryd teen die beseringspook gewen?

“Daar is een ding wat jy nie kan beheer nie en dit is beserings. Jou rehabilitasie is van groot belang. Dít en baie geduld en harde werk. Om weer vir die Springbokke te speel, maak dit alles die moeite werd,” sê Coetzee.

“My geloof het ook ’n groot rol gespeel saam met die ondersteuning van my familie en vriende. Jy moet terugkom op die perd en aanhou veg.”

Hy sê die feit dat hy baie vir Ulster op agtsteman diens gedoen het, sal help wanneer hy Saterdag vir die Bokke agter die skrum sak.

“Ek het nou meer ervaring en is ’n bietjie meer volwasse en sielkundig beter toegerus om vir wedstryde voor te berei. Dit (om vir Ulster agtsteman te speel) het baie gehelp met my algemene spel.”

Meer oor:  Ulster  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Wêreldbekerrugby  |  Marcell Coetzee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.