Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Marcell kry lof, maar sien Rassie hom?

Daar word wyd en syd bespiegel of die losvoorspeler Marcell Coetzee, wat sy rugby die laaste paar seisoene vir Ulster in Ierland speel, vanjaar ’n rol gaan hê in die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog.

Marcell Coetzee word vroeër dié seisoen in die spanne se Pro14-wedstryd in Bloemfontein deur Nico Lee van die Cheetahs beetgekry. Foto: Gallo Images

Tot op hede was daar egter nog geen gesprekke tussen Coetzee en Rassie Erasmus, die Bok-afrigter, oor dié moontlikheid nie.

Sy span speel Vrydag teen die Glasgow Warriors in die halfeindronde van die Pro14-reeks.

Die 28-jarige Coetzee is aangewys as Ulster se rugbyskrywers se Speler van die Jaar, ’n prestasie waarop hy baie trots is, nadat hy aan die begin van die seisoen nie seker was hoe dinge vir hom sou uitdraai nie.

Hy het verlede seisoen net vyf wedstryde weens ’n kniebesering gespeel.

“Dit (dié seisoen) was werklik iets besonders, want aan die begin van die seisoen het ek nie geweet wat gaan gebeur met my knie nie.

“Nou, om nege maande later weg te stap met dié toekenning, voel ek darem ek het iets teruggegee vir al Ulster se bystand die afgelope twee seisoene.

“Dit laat my nederig voel,” sê die Springbok wat tussen 2012 en 2015 in 28 toetse gespeel het.

Coetzee is ook deur Rory Best, sy kaptein by Ulster, uitgesonder vir sy goeie spel.

Best het aan die BBC gesê Coetzee hou altyd die span op die voorvoet. Dít is wat ’n span van sy buitelandse spelers soek, spelers wat groot oomblikke in groot wedstryde beleef.

Coetzee is op sy beurt ook vol lof vir Best.

“Sy leierskap en spel het ’n groot rol gespeel in ons sukses as span vanjaar. Hy is een van die beste kapteins onder wie ek al gespeel het. Dis maklik om te sien hoekom hy so baie sukses in sy loopbaan bereik het.

“Om sulke woorde te hoor van ’n legende van die spel, maak ’n mens net weer nederig.”

Best (36) tree aan die einde van die Pro14-seisoen uit en Coetzee sê hulle wil graag hul halfeindstryd wen sodat Best se beroepsloopbaan op ’n hoogtepunt met ’n eindstryd afgesluit kan word.

“Hy is ’n legende hier in Ierland. Ek kan net dink hy sal dit ook so (’n eindstryd) wil hê as hy kan kies hoe om klaar te maak. Maar dit is ongelukkig nie hoe dit werk in rugby nie, jy moet hard baklei en bestendig wees om bo uit te kom. Ons moet eers verby Glasgow kom,” sê Coetzee.

Volgens hom sal dit belangrik wees om akkuraat en klinies in die sleuteloomblikke te wees om die Skotse span tot oorgawe te dwing.

Meer oor:  Ulster  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Wêreldbekerrugby  |  Marcell Coetzee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.