Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Marcell uit WB; Rassie stuur 4 huis toe

Wie gaan die laaste speler wees wat Rassie Erasmus gaan weglaat wanneer hy Maandag in Johannesburg sy groep van 31 vir die Wêreldbeker-toernooi in Japan bekend maak?

Marcell Coetzee verlaat die veld vir ’n harsingskudding-toets tydens Saterdag se toets tussen die Springbokke en Argentinië op Loftus in Pretoria. Foto: Gallo Images

Dís straks die vraag nadat die Bok-afrigter vier lede van die oefengroep van 36 wat Sondag in Bloemfontein saamgetrek het aan hul provinsies vir Curriebeker-rugby vrygestel het.

Hulle is Thomas du Toit, Lizo Gqoboka (albei stutte), Marvin Orie (slot) en André Esterhuizen (binnesenter).

Die Bok-bestuur het Maandag ook bekend gemaak dat die losvoorspeler Marcell Coetzee weens ’n enkelbesering nie vir die uitsoekgroep oorweeg sal word nie.

“Marcell sal Woensdag ’n enkeloperasie ondergaan. Hy sal vir 12 weke buite aksie wees, wat beteken dat hy nie vir die Springbokke se Wêreldbeker-groep oorweeg sal word nie,” lui ’n verklaring uit die Bok-kamp.

Coetzee het benewens sy enkelbesering ook ’n stamp teen die kop gekry in die afgelope naweek se oorwinning van 24-18 oor Argentinië op Loftus in Pretoria.

Die aard van vandeesweek se Bok-kamp – dit sluit spanbou-aktiwiteite, veldsessies en tegniese aspekte vir die WB-toernooi in – is straks ’n sterk aanduiding dat die vier spelers wat aan hul provinsies vrygestel is nie meer deur Erasmus oorweeg word nie.

Die vrystel van Du Toit en Gqoboka laat slegs vyf stutte in die groep van 32. Daar is twee spesialis-loskopstutte en ook vaskoppe, en in Trevor Nyakane ’n voorryman wat aan albei kante van die skrum kan sak.

Indien dit ’n voorspeler is wat weggelaat gaan word, sal Erasmus die ongelukkige waarskynlik onder sy slotte of losvoorspelers vind.

Dit gaan vir hom bitter moeilik wees om een van die vier spesialis-slotte – Lood de Jager, Eben Etzebeth, Franco Mostert en RG Snyman – weg te laat.

In Pieter-Steph du Toit en Rynhardt Elstadt het hy wel losvoorspelers wat hul lyf ook slot kan hou. Du Toit word egter as een van die beste nr.7-flanke ter wêreld beskou en dit sal nie wenslik wees om hom te skuif nie. Elstadt kan slegs ook as ’n nr.4-slot speel indien hy noodgedwonge die posisionele skuif moet maak.

Kwagga Smith kan dalk kwesbaar wees, want die kaptein, Siya Kolisi, se insluiting in die beginspan as ’n nr. 6-flank is waarskynlik ’n gegewe. In Francois Louw het die Bokke ook ’n meer ervare speler as Smith wat die dubbel rol van oopkantflank en agtsteman kan vervul. Duane Vermeulen behoort die agtsteman in die beginspan te wees.Agterlangs gee die veelsydigheid van etlike spelers vir Erasmus die keuse om ook daar te sny. Jesse Kriel, Frans Steyn en Cheslin Kolbe se vermoë om in die laaste vesting te speel maak sowel Warrick Gelant as Willie le Roux se insluiting as heelagters nie ’n gegewe nie.

Terwyl Erasmus natuurlik nog nuwe spelers kan betrek, het die afgelope naweek se toets teen Argentinië vir hom ’n waardevolle blik op reserwekrag gegee. Diegene wat vakansieplanne vir eers opsy moet skuif om op kort kennisgewing Japan toe te vlieg weet waarskynlik reeds wie hulle is.

Die oorblywende 32 lede van die Bok-groep is:

Stutte: Steven Kitshoff, Vincent Koch, Frans Malherbe, Tendai Mtawarira, Trevor Nyakane.

Hakers: Schalk Brits, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi.

Slotte: Lood de Jager, Eben Etzebeth, Franco Mostert, RG Snyman.

Losvoorspelers: Pieter-Steph du Toit, Rynhardt Elstadt, Siya Kolisi, Francois Louw, Kwagga Smith, Duane Vermeulen.

Skrumskakels: Faf de Klerk, Herschel Jantjies, Cobus Reinach.

Losskakels: Elton Jantjies, Handré Pollard.

Senters: Lukhanyo Am, Damian de Allende, Jesse Kriel, Frans Steyn.

Vleuels: Cheslin Kolbe, Makazole Mapimpi, Sbu Nkosi.

Heelagters: Warrick Gelant, Willie le Roux.

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Wêreldbekerrugby  |  Marcell Coetzee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.