Drie Europese klubspanne poog net so hard soos die Blou Bulle om Marco van Staden se handtekening op ’n kontrak te kry.

Marco van Staden speel vanjaar weer van sy beste rugby. Foto: Gallo Images
Bordeaux en Bayonne is die Franse klubspanne wat saam met die Engelse reus Leicester Tigers hard probeer om Van Staden te oortuig om nie sy kontrak by die Bulle te verleng nie.
Die Bulle wil egter ten alle koste keer dat die 25-jarige Van Staden ’n loopbaanskuif maak.
Van Staden self het volgens ’n ingeligte nog nie ’n finale besluit oor sy loopbaan gemaak nie. Hy wil eers ná die Curriebekerreeks rustig sy opsies opweeg en dan ’n besluit neem.
Al bevind die Blou Bulle hulle in ’n stewige finansiële posisie danksy aandeelhouers soos Johann Rupert en Patrice Motsepe, is dit hoogs onwaarskynlik dat hulle Van Staden dieselfde salarispakket as van die Europese klubspanne kan aanbied. Daarvoor is die rand eenvoudig te swak vergeleke met die euro of pond.
Selfs die geldelike hulp van SA Rugby deur middel van ’n nasionale kontrak maak dit onwaarskynlik dat die Bulle die oorsese aanbiedinge kan ewenaar.
Van Staden, ’n oudleerling van die Hoërskool Bekker in Magaliesburg, speel vanjaar onder die Bulle-breier Jake White weer van sy beste rugby. Die oorsese belangstelling in hom is dus heeltemal geregverdig.
Gelukkig vir White is losvoorspeler een posisie waar die Bulle goeie diepte het, sou Van Staden as ’n eerstekeuse-speler wel besluit om later oorsee te gaan.
Marcell Coetzee sluit hom boonop in Julie van die Ierse klubspan Ulster by die Bulle aan.
Rapport verneem intussen dat Damian Willemse volgende week of die week daarna met die Westelike Provinsie oor sy loopbaan sal praat. ’n Sterk kans bestaan dat hy soos Coetzee in die toekoms ’n Bul kan word.
Die WP het wel ’n uitstekende aanbod aan Bongi Mbonambi gemaak. Dis glo soveel as ’n miljoen rand meer as wat enige ander belangstellende span hom aangebied het. Die Bulle, Haaie en oorsese klubspanne is op sy spoor.
Die Bulle het die afgelope week ’n vergadering gehad met hul spelers wie se kontrakte hernieu moet word, maar samesprekings tot ná die Curriebeker uitgestel.
Die Springbokke Trevor Nyakane, Lizo Gqoboka en Embrose Papier is die vernaamste spelers wie se kontrakte later vanjaar verstryk.