Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Maritz se loopbaan hang aan draadjie
Neil Maritz in aksie vir die Pumas in ’n wedstryd in verlede jaar se Superrugby Unlocked-reeks teen die Stormers in Mbombela. Foto: Gallo Images

Harsingskudding het in alle waarskynlikheid die rugbyloopbaan van die belowende Neil Maritz, wat ’n belangrik deel uitmaak van die Blitsbokke se planne vir die toekoms, tot ’n einde gebring.

Maritz (27) sterk tans by sy ouerhuis in Villiersdorp in die Wes-Kaap aan nadat hy die besering in ’n oefensessie van die nasionale sewesakademie opgedoen het. Medici het aanbeveel dat hy sy rugbystewels ophang.

“Ek het harsingskudding in ’n oefening opgedoen en daarna met simptome gesukkel wat nie wou weggaan nie. Ek het baie angstig gevoel en gesukkel om te slaap,” sê Maritz.

Ek oefen tans niks nie en rus tuis by my ouers. Daar is nie ’n beter plek om te rus nie, dit is stil en my ma-hulle kyk mooi na my.
Neil Maritz

“Dit is iets wat ek goed moet bestuur. Ek oefen tans niks nie en rus tuis by my ouers. Daar is nie ’n beter plek om te rus nie, dit is stil en my ma-hulle kyk mooi na my.”

Maritz het verlede jaar uitgeblink as vleuel vir die Pumas in vyftienmanrugby, voordat ’n skouerbesering sy seisoen kortgeknip het. Hy het hom vroeg vanjaar by die nasionale sewesakademie aangesluit en sy rehabilitasie in Stellenbosch vir die skouerbesering voltooi.

Dié oudleerling van die Hoër Jongenskool Paarl het sy senior provinsiale buiging in die langer weergawe van die spel in 2014 vir die Haaie gemaak en later ook vir die Oostelike Provinsie uitgedraf.

Stedman Gans sit Vrydag op ’n lopie af in een van die wedstryde teen die All Stars in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Intussen erken Stedman Gans sy terugkeer tot die speelveld ná ’n enkelbesering was allermins nie ’n Sondagmiddaguitstappie nie.

Die Blitsbokke is in Johannesburg waar hulle ’n oefenkamp het. Hulle het ook Vrydag vier wedstryde teen die All Stars gespeel. Gans (24) is in ’n wedloop teen tyd gewikkel om die span na die Olimpiese Spele te probeer haal.

“Soos te wagte is dit moeilik. My longe brand ’n bietjie en my bene is swaar. Maar dit sal alles regkom met speeltyd,” sê Gans.

“Ek is baie bly oor hoe my enkel gereageer het in die wedstrydsituasies. Ek was baie senuagtig, veral vanoggend voor die eerste wedstryd.”

Die Blitsbokke het die vier wedstryde teen die All Stars oortuigend gewen met tellings van 36-0, 38-0, 53-7 en 35-7.

Ook vir Dylan Sage, wat hom onlangs weer by die nasionale sewesspan aangesluit het nadat hy die laaste paar maande op die langer weergawe van die spel gefokus het, was Vrydag ’n uitdaging.

Daar is beslis dinge waaraan ek sal moet werk, met fiksheid wat die eerste prioriteit is.
Dylan Sage

“Dit was baie moeilik. Daar is beslis dinge waaraan ek sal moet werk, met fiksheid wat die eerste prioriteit is,” sê Sage (29).

“Maar dit was lekker om daar (op die veld) te wees. Dit was oor die algemeen ’n goeie dag.”

• Die Blitsbokke sal Saterdag ’n oefensessie hê en ook weer wedstryde speel.

Meer oor:  Dylan Sage  |  Suid-Afrika  |  Stellenbosch  |  Blitsbokke  |  Sewesrugby  |  Harsingskudding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.