Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Marizanne Kok praat met Roscko
Roscko Speckman Foto: luigi bennet

Dis ck en ck.

Ja, hy weet dit staan anders in sy paspoort, maar dis nie hoe hý dit wil hê nie. Hy skryf “Roscko” met ’n ck en “Speckman” met ’n ck.

Daar is ’n goeie rede waarom my gesprek met dié Blitsbok-sensasie eergistermiddag afskop met ’n spel-les. Tik ’n variasie van sy naam in Google in, en jy sal minstens drie ander op verskillende webblaaie kry.

Gelukkig eindig die onsekerheid rondom Roscko Speckman deesdae by sy naam – vir sowel hom as die land se Blitsbokondersteuners.

Wanneer ’n gaping voor hom oopgaan, wonder “Speckies”, soos hy onder spanmaats en aanhangers bekend staan, nie hoe hy daardeur gaan kom nie, hy wéét. Wanneer hy by die oefenveld opdaag, wonder hy nie meer of hy verdien om die ovaalbal saam met ouens soos Cecil Afrika en Seabelo Senatla rond te gooi nie, hy wéét.

En ná sy skittervertonings in die sewes-Wêreldreeks se toernooie in Nieu-Seeland en Australië wonder rugbyfanatici nie meer wie dié lat met die wilde haarstyl is nie – hulle wéét nou van die vuurpyle aan sy voete en die swaai in sy heupe.

Dié laaitie van Grahamstad het altyd gedroom van sewesrugby op die hoogste vlak, vertel hy op die Kaapstadlughawe, voordat hy en sy spanmaats vertrek vir die toernooie in Las Vegas en Vancouver.

“Fabian Juries kom mos ook van my wêreld af en hy was die land se eerste gróót sewesheld. So ek het van baie jonk af opgekyk na hom en gedink ek wil soos hy wees. Ek kon nie glo so ’n klein outjie kan soveel magic op die veld maak nie.”

Tog het Speckman rugby nie ernstig opgeneem nie. Totdat hy in sy gr. 11-jaar vir die Oostelike Provinsie se akademiespan gekies is en daarna ’n beurs gekry het om na Kingswood College te gaan. By dié private skool was hy in sy matriekjaar ook in die 100 m die Oos-Kaapse o.19-kampioen.

“Ek het rugby, krieket en atletiek gedoen, maar die krieketgogga het nooit gebyt nie,” sê hy. “Met die atletiek het dit baie goed gegaan, maar toe’s ek SA skolekampioenskap toe en ek skrik, want daai ouens kón hardloop.

“Ek was vyfde daar en ek het by myself gedink nee wat, rugby bly maar my grootste passie.

“Daar is meer manne op ’n rugbyveld en ek hou nie van ’n sport waar ek alles op my eie moet doen nie.

“In atletiek is dit jóú skuld as jy te stadig wegspring, maar in rugby staan of val almal saam.”

Speckman se 100 m-talente het nie verlore gegaan toe hy die atletiekbaan die rug toegekeer het nie.

Hy het altyd vleuel gespeel in 15-manrugby en graag hakskene vir die res gewys.

Maar sy vaart is nie die enigste pyl in sy koker nie, sê Speckman. Hy is méér as net ’n spoedvraat.

“Die vaart het ek nog altyd gehad, maar ek gebruik dit slim. Ouens soos Sea (Senatla) hardloop net vir die verdedigers weg, maar ek gebruik nog moves ook terwyl ek so vinnig hol. Ek het baie tricks,” lag hy oopmond.

Dat sy kleintyddroom van ­internasionale sewesrugby sou waar word, het net drie jaar gelede vir Speckman ’n wesenlike moontlikheid begin word. Voor dit het hy lank gewag op waarborge dat hy het wat dit verg . . . 

Maar dit was in Pretoria, daar by ’n provinsiale sewestoernooi in die Haaietrui, dat hy begin gló het.

“Ek was die speler van die toernooi en het toe gedink: Hier’s dit nou, ek gaan dit verder vat. Maar toe’t dinge nog steeds nie geloop soos wat ek gedink het dit sal nie. Ek is weg by die Haaie, Nelspruit toe met ’n Pumas-kontrak.

“Tóé vat dinge vlam. Ek was die Vodacombeker-Speler van die Jaar; ek het 22 drieë gedruk en my coaches het vir my kom sê ek moet sewesrugby ernstig begin opneem.”

Die oproep om die Blitsbokke te verteenwoordig het presies twee jaar gelede gekom, en Speckman het sy buiging in 2014 se Las Vegas-toernooi gemaak. Maar wéér is hy op ’n onverwagse kronkelpaadjie gedwing . . .

“Ek het in daai toernooi enkelligamente geskeur, so toe is ek skielik vir drie maande van my voete af. Gelukkig het coach Neil (Powell) nie van my vergeet nie en my weer nadergehark toe ek gesond was.”

Sedertdien het Speckman nie weer teruggekyk nie en baljaar hy in die wete dat hy sy grootste passie uitleef.

“Ek moet sê ek geniet elke oomblik. Om jou droom elke tweede maand te leef én te wys dit gaan nie net oor size of sulke goed nie – dis meer as waarvoor ’n ou mag vra.

“Dis vir my lekker op die veld en dis belangrik. Die dag as jy net speel vir geld of vir ander mense, dan kan jy die game maar los, dan moet jy iets anders gaan doen, glo ek.”

“Dis só met alles in die lewe: As jy geniet wat jy doen, kan niks nêrens verkeerd gaan nie.”

“Dis só met alles in die lewe: As jy geniet wat jy doen, kan niks nêrens verkeerd gaan nie.”

Dis met daardie uitkyk dat Speckman iets soos Olimpiese goud – waarop hy hopelik in Augustus saam met sy Blitsbok-spanmaats sal jag maak – as “net ’n bonus” bestempel.

“Ek dink Olimpiese goud sal regtig ’n bonus wees, en vir ons is die belangrikste ding om eers die Wêreldreeks te wen. As ons dit kan doen, sal alles anders in plek val voor die Olimpiese Spele,” sê hy.

“Ek dink Olimpiese goud sal regtig ’n bonus wees, en vir ons is die belangrikste ding om eers die Wêreldreeks te wen. As ons dit kan doen, sal alles anders in plek val voor die Olimpiese Spele,” sê hy.

“Dis belangriker, want as jy die reeks wen, beteken dit jy was naweek ná naweek bestendig. Die Olimpiese Spele is net een naweek, enige van die topvier kan dit wen, so ons kan nie alles daaroor maak nie.”

Nie dat Speckman of enige van sy spanmaats gaan neus optrek daarvoor nie.

Maar ongeag hoeveel en watter medaljes in die volgende maande om sy nek gehang word, gaan een ding vir dié Oos-Kapenaar dieselfde bly: Solank hy rondom verdedigers kan wals, sal daar vreugde in sy hart wees.

Want hy sal dit doen op ’n verhoog waar hy gelukkiger as enige ander plek is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.