
Die Engelse stut Joe Marler (middel) glimlag skaapagtig net nadat hy Alun Wyn Jones (regs), Wallis se kaptein, aan die geslagsdele beetgekry het. Foto: Getty Images
Die Engelse stut Joe Marler is Donderdagaand vir 10 weke geskors nadat hy Alun Wyn Jones, kaptein van Wallis, aan sy geslagsdele gegryp het in die spanne se Sesnasies-rugbytoets op 7 Maart op Twickenham.
Marler is in Dublin verhoor.
Hy het volgens walesonline.co.uk die reg om appèl aan te teken.
Die klag teen hom was dat hy in die eerste helfte ’n speler van Wallis “aan die geslagsdele beetgekry het” en dit “gedruk en gedraai” het.
Die stut erken hy hét oortree, maar ontken dat hy die speler se geslagsdele gedruk en gedraai het. Hy dink ook nie die voorval het ’n rooikaart regverdig nie.
Die dissiplinêre komitee het egter die klag gehandhaaf.
Sy aanvanklike skorsing van 12 weke is, ná versagtende faktore in ag geneem is, met drie weke verminder.
Dit is toe weer met ’n week verleng nadat onlangse dissiplinêre rekord ter sprake gekom het.
Marler, wat al by meer as een geleentheid in omstrede voorvalle op en van die veld betrokke was, sal eers op 8 Junie weer rugby kan speel.
Op Twitter was daar vinnige en skerp reaksie op die skoring. Die (ewe omstrede) TV-persoonlikheid Piers Morgan was blitsig by met 'n gevatte woordspeling.
– Sportredaksie