Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Marshall: Bokke vat raak met Pollard
Alle oë sal Saterdag op Jesse Kriel wees, wat uit posisie op vleuel gekies is vir die Bokke se toets teen die All Blacks. Foto: Getty Images

Die All Blacks lek hul lippe af vir die Springbokke se verwagte fisieke aanslag in Saterdag se Rugbykampioenskapstoets in die prentjiemooi Westpac-stadion in Wellington.

“Ek sal graag wil sien hoe ons daarop reageer,” het Kieran Read, kaptein van die magtige Kiwi-span, gesê.

“Sover het dit goed gegaan (met hoe ons op uitdagings van teenstanders gereageer het). Die Bokke is ’n span wat nog probeer uitpluis hoe hy wil speel.

“Waaroor ek egter nie twyfel nie, is dat hulle ons voorlangs fisiek sal wil aanvat. Die Bokke het wel al vanjaar gewys dat hulle ook bereid is om hul agterlyn te gebruik. As daar goeie speeltoestande is, soos verwag word, sal dit ’n opwindende toets wees.

“Die Bokke sal ná twee agtereenvolgende nederlae aangevuur wees. Ons kan nie net opdaag en verwag dinge sal vir ons reg verloop nie. Hulle is ’n goeie span met baie trots.”

Read glo as sy span se ingesteldheid reg is, sal hulle Saterdagaand die Rugbykampioenskapstitel in Wellington beklink.

Die voormalige All Black-skrumskakel Justin Marshall het Vrydagoggend in ’n radio-onderhoud aan Radiosport in Nieu-Seeland gesê hy glo die tuisspan sal die besoekers met 20 of meer punte afransel.

“Die Bokke sal wel opdaag vir die toets. Hulle meet hulself aan die All Blacks,” het Marshall gesê.

“Die feit dat hulle afgeskryf word, sal hulle aanspoor. Ek dink Handré Pollard se insluiting is ’n goeie besluit. Hy is ’n meer fisieke speler en sal die voordeellyn aanval. Omdat hy so vlak speel en nie so diep soos Elton Jantjies terugval nie, kan ons dalk die Bokke sien rugby speel.”

Die Bokke se drie belangrikste besluitnemers, Pollard, Willie le Roux en Faf de Klerk, sal egter die beste vertoning van hul toetsloopbaan moet lewer om te verhinder dat Saterdag se kragmeting in ’n eensydige affêre ontaard.

Dié drietal is spelers van wêreldgehalte, soos hulle in die reekssege oor Engeland gewys het. Nie een van hulle was wel sover al op hul snykant in vanjaar se Rugbykampioenskap nie. Hulle sal groter beheer oor sake moet neem as die Suid-Afrikaners kop omhoog van die veld wil afstap.

Daarteenoor trek hul regstreekse teenstanders, Beauden Barrett (losskakel), Jordie Barrett (heelagter) en Aaron Smith (skrumskakel), die toutjies vir die All Blacks. Hulle bepaal die tempo van die spel vir hul span.

Slaag Pollard-hulle daarin om dieselfde vir die Bokke te doen, kan die toets gelyker verloop as wat baie kenners voorspel.

Terwyl die res van die wêreld die Bokke nie ’n kans teen Barrett-hulle gun nie, het die Suid-Afrikaanse kamp die hele week volgehou dat hulle ’n beter span is as wat die tellings in Mendoza en Brisbane teen onderskeidelik Argentinië en Australië weerspieël.

“Daar is beslis ’n paar besluite wat nie na ons kant toe gekom het nie (in Mendoza en Brisbane),” het die Bok-slot Eben Etzebeth gesê.

“Dis nou in ons hande. Ons het die week aan ’n paar dinge gewerk. Hopelik kan ons die naweek daarop verbeter. Rassie (Erasmus) het ’n goeie plan op die tafel gesit. Almal het ingekoop.

’n Ontspanne Kieran Read Vrydag by die All Blacks se kapteinsoefening in Wellington. Foto: Getty Images

“Sover wou dinge nie vir ons uitwerk nie. Hoofsaaklik omdat ons nie ons kanse gebruik nie. Hoe langer ons saam speel, hoe meer sal ons daardie geleenthede benut.

“Mense sien dalk nie nou Rassie se plan raak wat hy het om die groep se diepte te verbeter nie, maar hopelik sal hulle later.”

Nieu-Seeland: Jordie Barrett, Ben Smith, Anton Lienert-Brown, Ryan Crotty, Rieko Ioane, Beauden Barrett, Aaron Smith, Kieran Read (k), Sam Cane, Liam Squire, Scott Barrett, Samuel Whitelock, Owen Franks, Codie Taylor, Karl Tu’inukuafe. PLAASVERVANGERS: Liam Coltman, Tim Perry, Ofa Tuungafasi, Patrick Tuipulotu, Ardie Savea, TJ Perenara, Jack Goodhue, Damian McKenzie.

Suid-Afrika: Willie le Roux, Jesse Kriel, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Warren Whiteley, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Franco Mostert, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Bongi Mbonambi, Beast Mtawarira, Wilco Louw, RG Snyman, Francois Louw, Ross Cronjé, Elton Jantjies, Cheslin Kolbe.

  • Skeidsregter: Nigel Owens (Wallis).
  • Assistent-skeidsregters: Pascal Gaüzère (Frankryk) en Nic Berry (Australië).
  • TV-skeidsregter: Rowan Kitt (Engeland).
  • TV: 09:35 (SA tyd, M-Net, SS 1).


Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae


Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Handre Pollard  |  Justin Marshall
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.