Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Marx wêreld se beste haker, sê Woodward
Malcolm Marx sê sy sukses as haker is aan sy spanmaats te danke. Foto: Gallo Images

Die voorste haker in wêreldrugby. Punt.

Wanneer jy verneem dat dié lof vir die Springbok Malcolm Marx kom van sir Clive Woodward, ’n voormalige breier van Engeland se rugbyspan, beklemtoon dit nogmaals sy opgang sedert hy hom verlede seisoen in die Groen-en-goud gevestig het.

Woodward is van mening Marx is ’n eenman-weermag en is nie net die beste in sy posisie nie, maar is op 24 ook een van die beste voorspelers op die planeet.

Marx haal oudergewoonte sy skouers op wanneer hy oor dié aanprysing uitgevra word.

“Dit is die span, om eerlik te wees. Dit is my spanmaats wat dit vir my moontlik maak. Dit maak my nederig (Woodward se kommentaar), maar dit gaan nie oor ’n individu nie.”

Die Leeus-haker sê hy staal hom vir ’n titaniese stryd Saterdag teen Engeland, wat sy eerste toets op Twickenham sal wees.

Hulle sal ons op die agtervoet wil kry deur ons vaste fasette te teiken. Daardie druk spoel dan gewoonlik oor na die afbreekpunte en dit is wat ons moet verhoed.
Malcolm Marx

“Hulle sal ons op die agtervoet wil kry deur ons vaste fasette te teiken. Daardie druk spoel dan gewoonlik oor na die afbreekpunte en dit is wat ons moet verhoed.”

Marx was in die beginspan toe die Springbokke verlede jaar in die eerste toets van hulle jaareindtoer met 38-3 deur Ierland pak slae gegee is.

“Die laaste twee toere hier was nie goed nie. Die ouens is egter nou sielkundig op ’n goeie plek en ek is oortuig ons is vanjaar beter voorbereid op die uitdaging.”

Dit is nog nie duidelik of hy Saterdag teen Dylan Hartley of Jamie George te staan kom nie.

“Ek verkies om op myself te fokus en op dit wat ek kan bydra. Albei is goeie spelers, hoewel ek nog nie teen een van hulle gespeel het nie,” sê Marx.

Schalk Brits vandeesweek gepantser teen die Londense koue. Volgens Malcolm Marx en Duane Vermeulen vervul hy ’n belangrike rol wat spangees betref. Foto: Gallo Images

Die insluiting van die 37-jarige Schalk Brits in die Bok-groep, nadat hy vroeër uitgetree het, is ’n warm besprekingspunt in Suid-Afrikaanse rugby.

Veral ná die sterk vertoning wat Akker van der Merwe in die Curriebeker-eindstryd gelewer het vir die Haaie.

Marx sê Brits is baie ervare en hy is vir hom ’n ywerige mentor.

“Hy is uniek en dit is waarom hy steeds speel. Dit is ongelooflik om te dink dat hy uitgetree het en nou die kans staan om volgende jaar Wêreldbekertoernooi toe te gaan.”

Duane Vermeulen, wat saam met Brits vir die Stormers gespeel het, is dit met Marx eens dat dié veteraan-haker ’n waardevolle rol in die groep speel.

“Hy is die ou wat iemand opbeur as hy dalk nie die span gehaal het nie. Hy bring baie energie en is ervare. Schalk is eintlik hiperaktief en is op 37 die jongste ou in die groep.”

Bongi Mbonambi sal, te oordeel na vandeesweek se oefensessies, weer die plaasvervanger-haker in die Bokke se 23-tal wees.

Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Malcolm Marx  |  Engeland  |  Rugby  |  Haker  |  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Rose  |  Twickenham
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.