Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Masotti kry beherende belang in Haaie

Die Amerikaanse konsortium MVM Holdings het ’n beherende belang van 51% in die Haaie bekom, het die KwaZulu-Natal rugbyfranchise Donderdag aangekondig.

Marco V. Masotti, die oud-Suid-Afrikaner en prokureur aan die spits van MVM Holdings, wat ’n belang van 51% in die Haaie-franchise bekom het. Foto: Gallo Images

Die Haaie sê in ’n nuusverklaring MVM se belegging sal hom in staat stel om ’n “mag in wêreldrugby” te word. Die ander 49% van die Haaie-franchise sal gesamentlik deur die KwaZulu-Natal Rugbyunie en SuperSport International gehou word.

Die bedrag wat MVM betaal het, is vertroulik.

MVM se belegging in die Haaie volg op mislukte onderhandelinge met die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) vir ’n belang in die Kaapse unie se sakevleuel, wat die Amerikaners beheer oor die Stormers sou gee.

Daarvoor was MVM bereid om $6 miljoen te betaal, waarvan $4 miljoen in die WP se sakevleuel en $2 miljoen in die unie self belê sou word.

Die WPRU het aanvanklik belang gestel, maar wou nie ’n beherende belang in sy sakevleuel prysgee nie.

MVM se belegging in die Haaie kan straks nou ’n maatstaf van die wysheid van die WPRU se besluit raak.

Dié transaksie kan straks ’n yslike netwerk van kontakte vir die Haaie skep en intellektuele kapitaal verskaf waarvan ’n plaaslike rugbyunie net kan droom.

Behalwe vir Marco V. Masotti, die hoëprofielprokureur en oud-Suid-Afrikaner aan die spits van die konsortium, is van die ander lede daarvan Vincent Mai (voorsitter en uitvoerende hoof van Cranemere LLC), Marc Lasry (eienaar van die basketbalspan die Milwaukee Bucks), Doug Cifu (eienaar van die Florida Panthers-hokkiespan) en Michael Yormark (president van die sport- en vermaak-agentskap Roc Nation International).

Roc Nation gaan help met die wêreldwye uitbou van die Haaie se handelsmerk.

Die WPRU het meer as een rede om senuweeagtig te wees. Bo en behalwe die feit dat dit sy administrateurs se besluitneming in die kollig gaan plaas, gaan hy dalk ook sukkel om aan die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, vas te klou.

Mai het ’n beursskema gefinansier wat destyds vir Kolisi se opvoeding by Grey High School in Port Elizabeth betaal het. Kolisi is ook ’n kliënt van Roc Nation. Verder het Masotti self in Amanzimtoti grootgeword en is hy ’n ondersteuner van die Haaie.

MVM het aanvanklik die meeste potensiaal in die Stormers gesien gegewe die ligging in Kaapstad, ondersteunersbasis en die feit dat Kolisi aan die span gekontrakteer is. As die eerste swart Springbok-toetskaptein in die geskiedenis, is daar yslike betekenis aan Kolisi se teenwoordigheid en bemarkingswaarde gekoppel.

Masotti het die Haaie as ’n franchise met ’n “diep en wonderlike geskiedenis” geloof en gesê dat hulle in ’n “formidabele wêreldwye handelsmerk” uitgebou kan word.

Masotti het die Haaie as ’n franchise met ’n “diep en wonderlike geskiedenis” geloof en gesê dat hulle in ’n “formidabele wêreldwye handelsmerk” uitgebou kan word.

“Ons belegging is saamgestel om die franchise uit te bou deur diep verhoudinge met sakemense, finansiële hulpbronne en ander sportkodes,” sê Masotti.

“Ons glo dat rugby ’n unieke platform skep om karakter en die gemeenskap te bou. Ons wil geleenthede vir spelers uit verskillende agtergronde skep om internasionale sterre te word.”

Brian van Zyl, president van die Haaie, is vol vertroue dat die Haaie die regte vennoot gevind het.

“Dit was in al ons onderhandelinge met Marco Masotti baie duidelik dat hierdie konsortium, tesame met SuperSport, kommersiële insig en internasionale kontakte sal bring wat die Haaie sal help om ’n wêreldwye sporthandelsmerk te word,” sê hy.

Meer oor:  Marco V. Masotti  |  Brian Van Zyl  |  Haaie  |  Durban  |  Westelike Provinsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.