Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Matfield droom van Bok-pos saam met...

Sy verrassende besluit om die Bulle se afrigterspos van die hand te wys, beteken nie dat Victor Matfield nie meer die begeerte het om op die hoogste vlak af te rig nie.

Die voormalige Springbok-slot Victor Matfield het aspirasies om Suid-Afrika eendag af te rig. Foto: Gallo Images

Hy sal selfs eendag die Springbokke saam met sy oudspanmaat Fourie du Preez en Johann van Graan, tans die Ierse klub Munster se breier, onder hande wil neem, het Matfield vandeesweek in ’n video-onderhoud met die skrywer en geskiedkundige Dean Allen, ten bate van die Chris Burger/Petro Jackson-fonds, gesê.

Dié voormalige Bul-kaptein en mees ervare Springbok van alle tye, het aan die einde van 2018 besluit om nie die hoofafrigterspos by Loftus Versfeld te aanvaar nie. Dit was in daardie stadium ’n uitgemaakte saak dat hy die Kiwi John Mitchell se opvolger sou wees.

Matfield het egter onverwags koue voete gekry en Pote Human is toe noodgedwonge in die pos aangestel.

“Ek het ’n groot liefde vir rugby en ek sal altyd ’n passie vir die spel hê. In ’n stadium sal ek beslis wil afrig.”

Johann van Graan, tans hoofafrigter van Munster en voorheen ’n hulpafrigter van die Springbokke. Foto: Getty Images

Matfield, wat in 127 toetse gespeel het en die Springbokke in vier Wêreldbeker-toernooie verteenwoordig het, sê hy het gedink die tydsberekening was nie reg nie toe hy die Bulle-posisie van die hand gewys het.

“Kom ons hoop ek kry eendag die geleentheid met die regte ouens. Ek en Johann van Graan het regtig ’n hegte vriendskap en ek hoop daar sal ’n kans wees om by hom aan te sluit wanneer hy terugkeer Suid-Afrika toe,” sê hy.

“Ek, hy en Fourie du Preez is beste vriende. Ons glo ons sal iewers die geleentheid kry om deel te wees van iets spesiaal. Hopelik kan ons eendag die Springbokke saam afrig.”

Van Graan was van 2012 tot 2017 by die Bokke betrokke – eers as ’n tegniese adviseur en later as hulpafrigter met die voorspelers as portefeulje.

Hy het aan die einde van 2017 Munster se nuwe hoofbreier geword toe Rassie Erasmus na Suid-Afrika teruggekeer het om die Bokke se leisels te neem.

Daar was vroeër vanjaar sprake daarvan dat die Blou Bulle Maatskappy (BBM) Van Graan wil teruglok Pretoria toe. Hy was ook in die wedloop voordat Mitchell in 2017 as Bul-breier by Nollis Marais oorgeneem het.

Victor Matfield en Fourie du Preez nadat hulle in 2010 as lede van die Bulle se span die Superrugby-eindstryd teen die Stormers in Soweto gewen het. Matfield sê hy sal graag in die toekoms saam met Du Preez wil afrig. Foto: Gallo Images

Du Preez, soos Matfield ’n voormalige goue seun van Loftus, het in 2018 gesê hy stel nie daarin belang om die Bulle af te rig nie.

“Die besluite wat die laaste sewe jaar daar (by Loftus) geneem is, het die span van die heel beste na ’n baie middelmatige span laat uitsak,” het Du Preez destyds gesê.

“Niemand het nog aanspreeklikheid daarvoor aanvaar nie. Daarmee kan ek nie saamwerk nie.”

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Johann Van Graan  |  Victor Matfield  |  Fourie Du Preez
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.