Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Matfield: ‘Jake het oor alles ’n mening’

Hy het nog altyd daarvan gedroom om op die hoogste vlak af te rig en die Bulle lê hom steeds na aan die hart.

“Maar wanneer die tyd reg is,” sê Victor Matfield, die mees ervare Springbok van alle tye.

Die oud-Springbok-slot Victor Matfield toe hy verlede seisoen ’n hulpafrigter vir die Leeus in die Curriebeker-reeks was. Foto: Gallo Images

Met John Mitchell, die Bulle se hoof van rugby, se kop wat Engeland toe staan, is dit nie ’n verrassing dat dié oud-Bulle-kaptein se naam as ’n moontlike opvolger die rondte doen in Pretoria nie. Sy voormalige spanmaat en boesemvriend, Fourie du Preez, en Jimmy Stonehouse, die Pumas se direkteur van rugby, se name word ook genoem.

“Dit is maar blote bespiegeling. Mitchell het nog nie eens bedank nie. Ek het boonop ’n kontrak by SuperSport en kan my nie uitlaat oor poste wat nog nie eens vakant is nie,” sê Matfield.

Maar hy gaan nie ontken dat hy droom om af te rig nie.

En, niks sal hom meer bevrediging gee as om te sien dat die Bulle weer gaffel soos ’n dekade of wat gelede nie, sê hy.

Maar wat van sy oud-Bokbreier Jake White se mening dat hy en Du Preez nie opgewasse sal wees nie, omdat hulle nie ervaring het nie en hul eers op skolevlak moet leer, pleks van op die hoogste vlak foute maak?

Twee ouens met byna geen ervaring sal dit nie maak nie, voorspel White.

“Jake het nog altyd ’n mening oor alles gehad. Ek wonder of hy weet ek het voorheen drie jaar by die Bulle afgerig en verlede seisoen (in die Curriebeker-kompetisie) by die Leeus?

“Ek glo daar is plek vir albei afrigters in moderne rugby. Die een wat hom van skole- en klubvlak opwerk boontoe en die een wat die oorgang vinniger maak.

“Vat maar vir Mark Boucher. Hy het kort nadat hy ophou speel het begin afrig en kyk hoe suksesvol is hy by die Titans.

“Rassie (Erasmus, die Springbok-afrigter) is dalk die beste voorbeeld. Hy het die een jaar Loftus Versfeld toe gekom as ’n speler en die volgende jaar die Curriebeker kom wen as (die Cheetahs se) afrigter.

“In Nieu-Seelandse rugby is daar ouens soos Aaron Mauger en Tony Brown wat nog ’n paar seisoene gelede gespeel het en nou Superrugby-afrigters is.”

Matfield sê as Mitchell wel besluit hy wil eerder Engeland help voorberei vir die 2019 Wêreldbeker-toernooi sal sy opvolger die voordeel hê om voort te bou op die veranderings wat hy by Loftus gemaak het.

Meer oor:  Jake White  |  Victor Matfield  |  Bulle  |  Fourie Du Preez
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.