Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Victor, Jimmy kan Mitch se plek neem

Daar sal drie oorwegings wees wanneer John Mitchell se toekoms na verwagting binnekort in die Bulle se raadsaal bespreek moet word.

Loftus Versfeld of Twickenham? Daar sal in die afsienbare toekoms ’n besluit geneem word oor John Mitchell se rugbypad. Foto: Gallo Images

Hoewel die Blou Bulle Maatskappy (BBM) nog nie ’n formele aanbod van die Engelse Rugbyunie (RFU) ontvang het om Mitchell, die Bulle se rugbyhoof, se dienste te bekom nie, is dit glo net ’n kwessie van tyd.

Die RFU wil dié 54-jarige Nieu-Seelander volgens inligting as verdedigingsafrigter in Eddie Jones se afrigtingspan aanstel met die oog op volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi.

Mitchell, die Bulle se hoofafrigter in vanjaar se Superreeks, het tot 31 Oktober 2019 ’n kontrak met die BBM.

Die Bulle-direksie kan besluit om ’n stokkie te steek voor Mitchell se planne om na Twickenham terug te keer, maar dit is glo onwaarskynlik.

’n Tweede oorweging sal wees om ’n oordragfooi van die RFU te aanvaar en Mitchell sowat ’n jaar vroeër van sy kontrak vry te stel.

Die besluitnemers by Loftus Versfeld kan dit derdens oorweeg om Mitchell tot ná die WB-toernooi in Japan aan Engeland af te staan, maar hy sal voor dan sy kontrak met die BBM moet verleng (om sodoende weer die span in 2020 af te rig).

Jimmy Stonehouse. Foto: Gallo Images
Victor Matfield. Foto: Gallo Images

Dít kan straks die weg baan vir die Bulle om iemand soos Jimmy Stonehouse, die Pumas se ervare rugbyhoof, of Victor Matfield, ’n Springbok- en Bul-legende, te betrek met die oog op 2019 se Superrugby-reeks.

Die ervare Pote Human gaan die Blou Bulle in die Curriebeker-reeks afrig, maar die kans is glo skraal dat hy as die span se tussentydse Superrugby-hoofafrigter oorweeg sal word.

Eddie Jones, Engeland se hoofbreier, het intussen gesê die plan is dat ’n nuwe verdedigings- en aanvals-afrigter teen 23 September by die Rose se oefenkamp sal aansluit.

“Dié proses is in wording,” het Jones aan The Telegraph in Brittanje gesê.

“As jy al ooit daarby betrokke was om werknemerskontrakte te beding, sal jy begrip hê dat daar nie ’n tydlyn aan gekoppel kan word nie, maar ons is vol vertroue dat albei afrigters teen 23 September by ons sal wees.”

Dit blyk daar is gemengde reaksie in Engelse rugby oor Mitchell.

In sommige kringe word daar gevra waarom hy so ’n hoë aansien het as die span wat hy afrig die seisoen 66 drieë in die Superreeks afgestaan het.

Net die Sunwolves (99) het meer drieë deurgelaat.

Ander kenners meen hy het destyds die grondslag help lê vir Engeland se WB-glorie in 2003.

Hy was van 1997 tot 2000 Engeland se voorspeler-afrigter onder Clive Woodward.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.