Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Mathie bly aan as Griekwas-afrigter

Ondanks die feit dat Griekwas verlede seisoen nie ’n enkele sege in die Curriebeker- of Superrugby Unlocked-reeks kon behaal nie, is Scott Mathie se kontrak as afrigter van die Poubloues verleng.

Scott Mathie, afrigter van Griekwas, het goeie nuus gekry net ’n paar dae voordat die eerste skote in vanjaar se Curriebeker-reeks klap. Foto: Gallo Images

Arni van Rooyen, uitvoerende hoof van die Griekwaland-Wes-Rugbyunie, het Donderdag bevestig dat Mathie (38) en sy regterhand, Albert van den Berg (voorspeler-afrigter), se kontrakte tot ná die 2022-seisoen verleng is.

Die twee se aanvanklike kontrakte sou vanjaar op 31 Oktober verstryk het.

Hoewel daar verlede seisoen uit sommige oorde kritiek oor Mathie se vertoningslys was, is die belangstelling van groter unies in die dienste van Griekwa-spelers ’n bewys dat die Noord-Kapenaars hul rol in die Suid-Afrikaanse rugbylandskap vervul.

Albert van den Berg, voorspeler-afrigter van Griekwas. Foto: Gallo Images

So byvoorbeeld het die Bulle in die laaste paar maande die dienste van Zak Burger (skrumskakel) en James Verity-Amm (veelsydige agterspeler) bekom.

In die voorbereidingsreeks vroeër vanjaar het Griekwas hul eerste sege met Mathie as afrigter, wat in 2019 die leisels by Brent Janse van Rensburg as breier oorgeneem het, behaal, toe hulle die Oostelike Provinsie en daarna ook die Pumas geklop het. Verlede week het die Poubloues ook met die Cheetahs in ’n oefenwedstryd afgereken.

Die werksekerheid wat Mathie met die aankondiging ontvang het, sal ’n massiewe hupstoot vir hom wees voor sy span se eerste Curriebeker-wedstryd van die seisoen, Saterdag teen die Haaie in Kimberley.

“Dit is regtig goeie nuus. Ek is trots daarop om die hoofafrigter van hierdie unie te wees en sien daarna uit om voort te gaan met die harde werk en die vordering wat ons as span getoon het,” sê Mathie.

Griekwas het wel slegte nuus voor Saterdag se kragmeting gekry, met altesaam 15 spelers, wat Tinus de Beer (losskakel) en Michal Haznar (senter) insluit, wat op die krukkelys is.

Dit het Mathie genoodsaak om die strydros Ederies Arendse, wat gewoonlik vleuel speel, saam met André Swarts in die middelveld in te span.

Ederies Arendse sal Saterdag op buitesenter teen die Haaie in Kimberley diens doen. Foto: Gallo Images

Dan is die slot Jeandré Leonard (Noordwes-Universiteit) en die losvoorspeler Hanru Sirgel (Tuks), wat ’n paar weke gelede nog in die Varsitybeker-reeks gespeel het, op die plaasvervangersbank gekies. Mathie sê hy het volle vertroue in die spelers wat gekies is.

“ ’n Speler soos Ederies Arendse beskik oor die ervaring en ’n sterk wil om te speel. Hy is altyd gemotiveerd om die Poublou-trui oor sy kop te trek,” sê Mathie.

“Jeandré is ’n intelligente jongeling, wat oor ’n geweldige begeerte beskik om homself op hierdie vlak te bewys. Dit is belangrik dat Griekwas voortgaan om hierdie jongelinge te ontwikkel en hulle die geleenthede bied wat hulle verdien.”

Griekwas: Masixole Banda, Daniel Kasende, Ederies Arendse, André Swarts, Eduan Keyter, George Whitehead, Stefan Ungerer, Ruan Steenkamp (k), Sibabalo Qoma, Gideon van der Merwe, Cameron Lindsay, Mzwanele Zito, Andries Schutte, Janco Uys, Andrew Beerwinkel. PLAASVERVANGERS: Tiaan van der Merwe, Andrew Kuhn, Ewald van der Westhuizen, Jeandré Leonard, Hanru Sirgel, Raegan Oranje, Theo Boshoff, Christopher Hollis.

Meer oor:  Scott Mathie  |  Curriebeker  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.