Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Mathie in wolke nadat Griekwas WP skok

Griekwas se geskiedkundige oorwinning oor die Westelike Provinsie in die Curriebeker-reeks word deur die Noord-Kapenaars se afrigter, Scott Mathie, veral toegeskryf aan sy span se begeerte om te wen.

Griekwas se spelers vier hul geskiedkundige oorwinning oor die WP in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Die Poubloues het Woensdag ’n opskudding veroorsaak deur hul veel meer geroemde teenstander in die doodsnikke met 30-28 in Kaapstad te klop. ’n Drie deur Cameron Lindsay (slot) het die telling gelyk gemaak, waarna George Whitehead (losskakel) twee punte met ’n doelskop bygevoeg het.

“Vir ons is dit ’n reuse- en baie belangrike oorwinning. Dit hou ons in die prentjie op die punteleer,” sê Mathie.

“Dit dien as groot motivering vir die span, die wete dat ons weg van die huis wedstryde kan wen, maar meer as dit klinies kan wees as dit verlang word.

“Ek dink die verskil tussen die twee spanne was dat ons ouens ’n groot begeerte gehad het om te wen. Ek is trots daarop dat die spelers aangehou het om te glo dat ons kan wen. Dit was die groot verskil.”

Dit is nie aldag dat die Noord-Kapenaars daarin slaag om die WP in die Kaap te klop nie. Om die waarheid te sê, was die laaste keer dat Griekwas die Kapenaars in die Curriebeker-reeks in die Moederstad kon klop, meer as 100 jaar gelede, in 1911.

Boonop is dit Mathie, wat laat in 2019 die Poubloues se hoofafrigter geword het, se grootste oorwinning aan die stuur. In 2020 kon sy span nie ’n enkele oorwinning in die CB of die Superrugby Unlocked-reeks behaal nie.

Scott Mathie, afrigter van Griekwas, sê sy span se begeerte om te wen het die wa deur die drif getrek. Foto: Gallo Images

Sy kop is in sekere kringe geëis, maar Woensdag het Mathie en sy span gewys dat hulle in ’n gedugte eenheid ontwikkel. Dit nadat hulle vroeër in die reeks ook die Vrystaat-Cheetahs oortuigend geklop het.

Griekwas bevind hulle nou in die derde plek op die Curriebeker-puntelys met tien punte. Die WP (12) is in die eerste plek, gevolg deur die Pumas (10).

“Jy kan nie onderskat wat hierdie oorwinning vir die span gaan beteken in die toekoms nie,” sê Mathie.

“Ons het vir so lank so hard gewerk met min om daarvoor te wys. Ek het gesien dat ons verbeter, maar ’n oorwinning soos hierdie plaas die kollig op die verbetering wat ons as ’n span gemaak het.”

Dit was allermins ’n afgeronde vertoning deur Griekwas. Hul lynstane funksioneer steeds nie reg nie, wat hulle onder druk plaas en selfs veroorsaak dat hulle balbesit verloor.

Maar aan veggees en deursettingsvermoë was daar by die Noord-Kapenaars geen tekort nie.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Scott Mathie  |  Wp  |  Curriebeker  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.