Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Mathie oor 1ste sege: ‘Goed vir selfvertroue’
Griekwas se vleuel Enver Brandt word Woensdag platgetrek deur Riaan Arends van die Oostelike Provinsie. Foto: Gallo Images

Teen die verwagting in was daar nie sprake van uitbundigheid by Scott Mathie, Griekwas se rugbyafrigter, toe hy gevra is hoe dit voel om uiteindelik sy eerste oorwinning as breier van die Noord-Kapenaars te behaal nie.

Die Poubloues het die Oostelike Provinsie Woensdag in Gqeberha (Port Elizabeth) met 43-0 in die voorbereidingsreeks afgeransel.

Daarmee het Griekwas ’n wendroogte, wat teruggestrek het na 2019, oplaas gebreek.

“Ek is regtig bly oor die oorwinning. Dit was in moeilike omstandighede, dit was byvoorbeeld nat. Maar ek het gevoel dat ons onsself goed van ons taak in die omstandighede gekwyt het,” sê Mathie.

Vir my is die belangrikste uit die aard van die saak die oorwinning, maar ook dat ons hulle (die OP) verhoed het om enige punte aan te teken.
Scott Mathie

“Vir my is die belangrikste uit die aard van die saak die oorwinning, maar ook dat ons hulle (die OP) verhoed het om enige punte aan te teken.

“Hulle is ’n span wat ’n paar drieë in hul laaste twee wedstryde gedruk het. Ek dink wat ons verdediging betref, was ons regtig baie goed en ons was fisiek in die kontak.”

Daar was nie sprake van uitbundigheid by Scott Mathie oor sy eerste sege as afrigter van Griekwas nie. Foto: Gallo Images

Vir Mathie (38) en sy spelers sal die oorwinning soos manna uit die hemel wees. Hy is vroeg in 2019 as Griekwas se agterlynafrigter aangestel, toe Brent Janse van Rensburg die hoofkok in dié kombuis was.

Dit was ’n droomseisoen vir die Noord-Kapenaars. Hulle het die SuperSport-uitdaagreeks gewen en die halfeindronde van die Curriebeker-reeks gehaal.

Dié sukses het Janse van Rensburg van ’n hulpafrigterspos by die Haaie verseker en in September 2019 is Mathie as sy opvolger aangewys.

Daarvandaan was dit allermins ’n maklike pad vir Mathie. Eers was daar die inperking weens die Covid-19-pandemie, wat veroorsaak het dat sy eerste wedstryd aan stuur van Griekwas eers laat in 2020 was.

Toe was daar nederlaag ná nederlaag. Sommige wedstryde is net-net verloor, terwyl ander afgedankte loesings was.

Tog is dit ’n allemintige 15 nederlae in totaal. Twee oefenwedstryde teen die Cheetahs, ses in die Superrugby Unlocked-reeks, vyf in die Curriebeker (een wedstryd is afgelas) en twee vanjaar in die voorbereidingsreeks.

Vir die unie was dit 17 wedstryde (plus die een teen die Bulle wat afgelas is) sonder ’n oorwinning, aangesien die Poubloues hul laaste twee wedstryde in 2019 met Janse van Rensburg as afrigter ook aan die verloorkant was.

Die skeptici sal jou gou daarop wys dat ’n oorwinning oor die OP nie eintlik rede is om die vonkelwyn nader te trek nie.

Die skeptici sal jou gou daarop wys dat ’n oorwinning oor die OP nie eintlik rede is om die vonkelwyn nader te trek nie. En dat Griekwas nie eens amper ’n afgeronde vertoning opgedis het nie en talle foute begaan het.

Dis seker geldige punte.

Maar daardie oorwinning sal wondere vir Mathie en die spelers se selfvertroue verrig ná al die nederlae die afgelope maande. Wat straks beteken dat teenstanders vorentoe soveel meer in hul pasoppens vir die Poubloues moet wees.

“Enige oorwinning is goed vir die selfvertroue,” sê Mathie. “Ons sal beslis die energie wat ons hier gekry het, gebruik op ons pad vorentoe.”

Meer oor:  Scott Mathie  |  Kimberley  |  Op Olifante  |  Poubloues  |  Voorbereidingsreeks  |  Afrigter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.