Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Mathie: ‘Vaste fasette het ons geknou’

Ondersteuners van Griekwas kan verskoon word indien hul emosies effens wipplank gery het tydens dié span se eerste Curriebeker-wedstryd van die seisoen, Saterdag teen die Haaie in Kimberley.

Die Durbaniete het vier drieë gedruk om met 30-16 te wen.

Eduan Keyter, vleuel van Griekwas, sit Saterdag op ’n lopie af, met Manie Libbok van die Haaie wat nader staan. Foto: Griekwas

Uit die Poubloues se oogpunt was daar oomblikke van plesier. Soos toe Eduan Keyter (vleuel) sy span se eerste drie gaan druk het. Of die tye dat die losvoorspelers Gideon van der Merwe en Ruan Steenkamp hulself by die afbreekpunte laat geld het en nie bang was om hul lywe op die spel te plaas met duikslae nie.

Laat in die wedstryd het Keyter se vleuelmaat, Daniel Kasende, deurgehol vir sy span se tweede drie, wat ondersteuners ook met ’n aangename warm gevoel sou gelaat het.

Maar dan was daar dinge wat in alle waarskynlikheid ondersteuners se bloeddruk deur die dak sou jaag. Dinge soos strafskoppe wat afgestaan word by skrums en balbesit wat op die Poubloues se eie ingooi by ’n lynstaan net ’n paar meter van die Haaie se doellyn, verlore gaan.

Scott Mathie, afrigter van Griekwas, gee toe sy span se vertoning in die vaste fasette was nie goed genoeg nie.

“Ek dink ons was te wispelturig in die vaste fasette. As jy wil aanval is dit belangrik dat jy die bal hou en dan moet die vaste fasette ’n platform (vir aanvalle) gee. Ons het net nie genoeg kwaliteit balbesit van die vaste fasette gekry nie,” sê Mathie.

Scott Mathie, afrigter van Griekwas. Foto: Gallo Images

Benewens die vaste fasette het die Poubloues ook ’n aantal strafskoppe afgestaan, terwyl die span se besluitneming by tye veel te wense oorgelaat het.

“Dit was vir ons moeilik om druk vol te hou met die bal in die hand. Ek dink ons het deur ’n aantal strafskoppe wat ons afgestaan het die Haaie maklike ‘toegang’ na ons helfte van die veld gegee.

“Dit is beslis iets waarin ons moet verbeter. Ek dink ons moet meer akkuraat wees – ook wat betref hoe ons dinge uitvoer,” sê Mathie.

Maar die Noord-Kapenaars se breiers is allermins nie in sak en as nie. Daar het genoeg positiewe dinge in die 80 minute op die veld gebeur waarop Griekwas kan voortbou voordat hulle Saterdag teen die Vrystaat-Cheetahs in die Diamantstad te staan kom.

“Die positiewe aspekte is dat ons geleenthede geskep het om die wedstryd te wen,” sê Mathie.

“Dit is die ding, ons het nie daardie geleenthede geneem of die regte besluite geneem wanneer ons daardie geleenthede gehad het nie.”

Meer oor:  Haaie  |  Kimberley  |  Scott Mathie  |  Curriebeker  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.