SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Rugby
Matie-kaptein tree uit weens harsingskudding

Die Maties se afrigter, Hawies Fourie, glo sy span sal die verlies van sy kaptein, Beyers de Villiers, te bowe kan kom in vanjaar se Varsitybeker-rugbyreeks.

Beyers de Villiers, wat die seisoen as die Maties se kaptein in die Varsitybeker-rugbyreeks begin het, het weens harsingskudding sy uittrede aangekondig. Foto: Gallo Images

De Villiers (25), ’n staatmakerflank, het besluit om sy stewels op te hang nadat hy in verlede week se wedstryd teen Tukkies harsingskudding opgedoen het.

“Ons het altyd geweet dat Beyers sal moet uittree as hy weer harsingskudding opdoen. Dit het nou te veel gebeur. Die risiko is te groot vir hom om aan te hou speel,” sê Fourie.

“Toe drie spelers hom gelyktydig by ’n losskrum skoonmaak en een se knie hom teen die kop tref, was hy katswink.”

Fourie het vir Craig Barry as die nuwe kaptein aangestel.

Hy glo sy sterk leierskern – Barry, Chippie Oelofse, Freddie Kirsten, Kobus van Dyk, Braam Venter en Kyle Steyn – sal die span kan deurdra.

“Die verlies van Beyers plaas meer verantwoordelikheid op die senior spelers. Elkeen sal ’n groter bydrae moet lewer,” sê Fourie.

“Ons sal die terugslag te bowe kom, maar dit gaan nie maklik wees nie. Daar is nie baie spelers van Beyers se kaliber nie. Ons het darem goeie diepte onder ons losvoorspelers.”

Fourie meen De Villiers se werkverrigting was die uitstaande kenmerk van sy spel.

“Behalwe vir sy leierskap, was Beyers se werkverrigting ongelooflik. Die enigste ander spelers in daardie klas is Tukkies se Ruan Steenkamp en Pukke se Jeandré Rudolph,” sê hy.

“Beyers het baie duikslae uitgevoer, in elke wedstryd omkeerbesit afgedwing en was ook ’n goeie baldraer.”

Hy het bygevoeg dat De Villiers akademies “goed gekwalifiseerd” is vir ’n loopbaan buite rugby.

Craig Barry is die Maties se nuwe kaptein. Foto: Gallo Images

* Intussen meen Fourie sy span se noue ontkoming teen die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) Maandagaand het ewe veel met die besoekers se klas as sy span se ondergemiddelde vertoning te doen.

Die Maties het met 26-14 gewen, maar het met tye bontgestaan. In die eerste helfte het die flank Janco Venter 10 minute in die afkoelstoel deurgebring en toe hy in die 52ste minuut ’n tweede geelkaart – en gevolglik ’n rooie – kry, het die Maties diep in die moeilikheid gelyk.

“Wits is ’n veel beter span as wat mense dink. Hul voorspelers is groot, fisiek en vaardig. Wits se kort aangeë was effektief en hulle was goed by die afbreekpunte. Hul losskakel, Warren Gilbert, skop goed en die heelagter (Luxolo Ntsepe) het my baie beïndruk,” sê Fourie.

“Jy kon met Wits se lyftaal ná die eindfluitjie sien watter soort span hulle is. Hulle was diep teleurgesteld eerder as in hul noppies dat hulle slegs met 12 punte teen die Maties verloor het.”

Wits het verlede jaar promosie uit die Varsityskild gekry.

Fourie was darem “trots” op sy span dat hulle onder moeilike omstandighede kop kon hou. Venter se rooikaart het yslike ontwrigting veroorsaak.

“In die eerste helfte was ons swak. Ons het verkeerde besluite geneem, ’n bietjie paniekbevange geraak en die voorspelers het soms met oogklappe in ’n muur vasgehardloop,”sê Fourie.

“Ons was vroeg in die tweede helfte veel beter.”

Die Maties het toe drieë gedruk deur Craig Corbett en Kyle Steyn, wat hulle genoeg van ’n buffer gebied het om Venter se rooikaart te kan verwerk.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Maties  |  Hawies Fourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.