Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Matie troef klierkoors, ander terugslae
Geor Malan, flank van die Maties. Foto: Varsitybeker

Meer as drie jaar nadat ’n rugbyspeler die Maties die laaste keer in die Varsitybeker-reeks verteenwoordig het, het hy laat in 2019 hoopvol dié span se afrigter gaan vra of hy steeds oorweeg kan word.

Die 24-jarige Geor Malan, ’n flank, se verhaal is een van opstaan wanneer die lewe klappe uitdeel. Hy moes immers ’n rits beserings en klierkoors oorkom om weer te speel.

Dié oudleerling van die Hoërskool Outeniqua was destyds ’n belowende skolespeler, wat ook in sewesrugby uitgeblink het. Hy het immers die Suidwestelike Distrikte in 2012 en 2013 in die Cravenweek-toernooi verteenwoordig en dié span ook in 2013 aangevoer.

Ná skool is Malan na die Blou Bulle, waar hy nie gelukkig was nie en boonop las van ’n enkelbesering gehad het. Hy het die skuif na die Maties gemaak en in 2016 sy eerste proesel van die Varsitybeker-reeks gehad. Maar toe slaan die noodlot toe.

“Ek het in 2016 tydens ’n strekoefening ’n ernstige kniebesering opgedoen. Die besering wou net nie beter nie en in 2017 het ek besluit ek is klaar met rugby en het my stewels weggepak.

“Ian Campbell-Mc Geachy (voormalige sewesafrigter van Maties) was soos ’n mentor vir my. Hy het my gedurig gevra om die oefeninge by te woon en my stewels saam te bring. Toe, in 2018, het ek uiteindelik ingegee en vir die Maties begin sewes speel,” sê Malan.

“Die volgende jaar het ek een aand ’n oefening van die tweede span bygewoon toe oom Louis Blom (dié span se breier) my gevra het of ek weer speel, want ek kon die volgende aand vir sy span speel as ek wou. Daardie tyd het ek nie vyftiens gespeel nie.

“Ek het ingestem en Hawies (Fourie, voormalige afrigter van Maties en tans breier van die Cheetahs) het my gesien speel en gevra of ek weer wil speel, want hy sal my help met ’n beurs,” sê Malan.

Geor Malan in aksie vir die Suidwestelike Distrikte op die Cravenweek-toernooi van 2013. Foto: Gallo Images

Maar nog was die einde nie in sig nie, want in September 2019 het hy ’n migraine gekry, nadat antibiotika vir hom voorgeskryf is vir mangelontsteking.

Dit het hom baie siek gemaak en hom onder meer ’n allergiese uitslag gegee. Hy was amper twee maande bedlêend en het 20 kg verloor – in dié tyd is gevind dat hy klierkoors het.

Sy siekte het beteken dat hy ook nie meer in Drikus Hancke, Fourie se opvolger, se oefengroep of planne vir 2020 se Varsitybeker-reeks was nie. Tog het Malan vir Hancke genader.

“Ek het hom gevra of ek steeds my beurs gaan kry. Hy het ja gesê, maar ook dat ek my plek deur die tweede span sou moes oopveg,” sê Malan, wat besig is met ’n meestersgraad in die regte.

In die tyd het hy baie navorsing gedoen oor die siekte en gesien dat hy tot 18 maande sou moes uitsit. Laat in 2019, ’n week voordat die Maties hul voorseisoense voorbereiding afgesluit het, het Malan by ’n oefensessie gaan gesig wys en Hancke oortuig dat hy ernstig oor ’n plek in die span is.

Maar vroeg in 2020 was hy steeds die derde keuse as sesflank. In die oefenwedstryde, voor die aanvang van die reeks, het hy egter die nr. 6-trui syne gemaak.

“Ek voel dat ek vanjaar goed speel. Dit was ook een van my hoogtepunte om weer saam met my broer (Remu, skrumskakel van Maties) te speel. Ons het voor vanjaar in 2016 laas saamgespeel, nadat ons al die jare spanmaats was,” sê Malan.

Meer oor:  Cravenweek  |  Varsitybeker  |  Maties
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.