Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Varsitybeker-skok: Maties ge-Bergh(e)!

Drie jaar se beplanning en bloedsweet het die onlangse “oornagsukses” van Pieter Bergh en Tiaan Liebenberg se Ixias-rugbyspan in die Varsitybekerreeks verseker.

Ixias se spelers bondel saam in vreugde nadat hulle Vrydag in Pretoria hul eerste Varsitybeker-oorwinning ooit oor Maties behaal het. Foto: Brendan Croft/Varsity

Ixias se oorwinning van 23-18 oor Maties Vrydag in Pretoria was dalk vir baie ondersteuners ’n yslike skok, maar Bergh-hulle het vooraf geglo dis heeltemal moontlik vir Dawid om Goliat om te dop.

“Ons het daarvoor beplan,” sê Bergh, hoofafrigter van die Ixias.

“Die oomblik toe ons vroeër vanjaar die bepalings kry, het ons gesien ons kan teen ons eerste drie teenstanders in die bioborrel (Madibaz, UJ en Shimlas) die maksimum punte probeer kry voordat ons enige beserings of moontlike ontwrigtings deur Covid-19 kry.

“In daardie laaste 20 minute van ons derde wedstryd van die eerste bioborrel teen Shimlas het ek gevoel ons is nou moeg.”

Ixias het byna die wedstryd teen Shimlas verloor omdat hulle begin foute maak het.

“Ons moes eindelik veg vir daardie wen. Ek het toe net gevoel die outjies is moeg nadat dieselfde 23-tal in drie agtereenvolgende wedstryde gespeel het.”

Bergh en Liebenberg het voor die Varsitybeker se onlangse tweede bioborrel in ’n kringetjie met hul spelers gesit. Hul boodskap aan die span was dat hulle meen hulle kan nie weer met dieselfde 23-tal in drie wedstryde in een week speel nie.

“Ons het Wits geteiken. Ek het gevoel Ikeys speel in dié stadium beter as Maties.

“Ek het ook nie gedink Maties wil op ’n Vrydagmiddag om 14:00 op Tuks se buiteveld speel nie. Ek het nie gedink Maties sal lus wees om daar te speel nie.

“Ek het geglo ons sal Maties klop en sal ’n plan hê daarvoor. Ons plan het gewerk. Die spelers het ingekoop.”

Bergh het voor die kragmeting met Maties onder kwaai kritiek deurgeloop omdat hy besluit het om ná die wedstryd teen Wits 12 veranderinge aan sy span teen Ikeys te maak.

Ikeys het Ixias in die proses met 76-5 afgeslag en aan Bergh-hulle gewys hul diepte is nie so goed soos hulle gedink het nie.

“Ek het egter die 12 veranderinge gemaak om te verseker dat ons met ’n vars span teen Maties speel.

“Ons het ook ’n dag langer ruskans as Maties gehad – ons het Maandag en hulle Dinsdag gespeel. Maties het eintlik net drie dae afgehad.”

Pieter Bergh ná die oorwinning. Foto: Gallo Images

Die sege oor Maties is die Ixias se vyfde van vanjaar se Varsitybeker. Vir ’n tikkie perspektief oor die grootsheid daarvan kan ’n mens ’n blik gooi oor die uitslae van die spanne se vorige kragmetings: die Stellenbossers was in 2020 met 62-24 baas oor die Bloemfonteiners, met 50-15 in 2019, 75-12 in 2018, 73-44 in 2017, 40-0 in 2016 en 53-8 in 2015.

Die ommekeer in die Bloemfonteiners se vertonings is ook verstommend as jy in ag neem dat Bergh en Liebenberg die enigste afrigters is. Hulle het ook net een rugbyveld.

Bergh rig die aanval, verdediging, skoptaktiek en die agterlyn af. Liebenberg is die voorspelerafrigter en rig hul spel by die afbreekpunte af.

“Ek dink net dis ons en die Madibaz (André Tredoux en Barend Pieterse) wat twee afrigters het. Die res het onder meer spesifieke video-ontleders, iets wat ek self doen.

“Maties het byvoorbeeld vir Marius Hurter as skrumafrigter en Corné Uys as verdedigingsafrigter.”

Die minder stemme in die kleedkamer werk vir Bergh-hulle. Hulle het wel ’n kondisioneringsghoeroe in Michael Shaw, wat ’n baie goeie verhouding met Bergh en Liebenberg het.

Varsitybeker

Bergh sê kontinuïteit in personeel speel ook ’n rol in hul sukses.

“Ons het 90% van die spelers van verlede jaar behou. Die ouens het geweet hoe ons wil speel en waarheen ons op pad is. Daar is skielik ’n geloof in hulself wat daar nie was nie.”

Vanweë daardie verbeterde selfgeloof, verdediging, fiksheid en bestendigheid in spankeuses, was dit vir Bergh maklik om te vertrou dat sy span in die doodsnikke van Vrydag se wedstryd, met sake gelyk op 18-18, vir ’n vale sou verdedig en omkeerbesit kon wen.

Dis presies hoe dinge toe uitgewerk het in die aanloop tot Cohen Jasper se wendrie teen die einde.

Al smaak die sege oor die Maties soet vir Bergh en sy troepe, het hulle nog nie in die Varsitybeker bereik wat hul glo Ixias kan nie.

Hulle benodig nog twee oorwinnings, of sowat ses punte, om tot die halfeindstryd deur te dring.

“Ons beskou ons wedstryd teen die Pukke nou as ’n kwarteindstryd. As ons hom wen, het ons ’n voet in die deur,” sê hy.

En dan is enigiets moontlik.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Ixias  |  Maties  |  Pieter Bergh  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.