SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Rugby
Maties-sneltrein Saal sluit by Cheetahs aan
Die Matie Duncan Saal vroeër vanjaar in die Varsitybeker-reeks teen Tuks in aksie. Hy het Donderdag die eerste keer saam met die Cheetahs begin oefen. Foto: Gallo Images

Hy weet presies wat sy afrigter, Hawies Fourie, van sy spelers verwag en daarby is hy ook ’n spesiale mens, sê die vleuel Duncan Saal, wat vandeesweek met sy Matie-afrigter by die Cheetahs herenig is.

Saal (23) het Donderdag die eerste keer saam met die Cheetahs geoefen nadat hy vroeër dié week in die Rosestad aangekom het met ’n kontrak van twee jaar.

Hy het nog eksamen by die Universiteit Stellenbosch geskryf, waar hy onderwys geswot het.

Craig Barry / Foto: Gallo Images

Hy word ook met nog ’n paar Maties, Craig Barry (veelsydige agterspeler), Chris Massyn (flank), Chris Smit (senter) en Wilmar Arnoldi (haker), herenig.

Dié boorling van Bellville-Suid, wat gematrikuleer het aan die Hoërskool Kasselsvlei (waar Bolla Conradie ook was), het erken sy longe het maar hande geklap tydens die eerste oefening, maar dit was weens die lugdruk en hy sal gou genoeg aanpas.

Maar hoekom die Moederstad en Westelike Provinsie vir die Rosestad en die Cheetahs verruil?

“Die Cheetahs het ’n ryk geskiedenis en die rugby wat hulle speel pas my. Ek is mal oor hardlooprugby. Dit is ’n nuwe uitdaging en ek sien uit om my beste te gee vir die unie en ’n beter speler te word.

“Ek glo ook dat God my op hierdie pad gesit het en sy besluit is altyd die regte een. Ek glo ek het baie om die Cheetahs te bied,” sê Saal.

Hy sê hy weet dit gaan allermins maklik wees om sommer tot die beginspan te vorder, maar hy kan nie wag om homself op dié vlak te toets nie.

Ek wag al lank vir so ’n geleentheid. Ek is 100% gereed. My ingesteldheid is reg en ek weet met my familie se ondersteuning en God se genade sal ek goed vaar.
Duncan Saal

“Ek wag al lank vir so ’n geleentheid. Ek is 100% gereed. My ingesteldheid is reg en ek weet met my familie se ondersteuning en God se genade sal ek goed vaar.”

Hy is maar al te bewus van die feit dat die Cheetahs oor baie goeie vleuels beskik, maar dit skrik hom nie af nie. Hy sê dit gaan daaroor om die beste van die situasie voor jou te maak en dit bly sy benadering, maak nie saak waar hy sy rugby speel nie.

“Ek moet my intussen ook regkry vir ’n nuwe leefstyl, iets heel anders as waaraan ek in die Kaap gewoond was, maar gelukkig het ek ’n paar goeie vriende hier.”

Anders as om sy spel te skoei op dié van internasionale vleuels of om hulle na te boots, was Saal se pa, Roderick, nog van kleintyd af sy held.

“Maar, ek was gek oor die All Black-vleuel Julian Savea en die manier hoe hy oorheers het in alle aspekte van sy spel.”

Meer oor:  Hawies Fourie  |  Duncan Saal  |  Bloemfontein  |  Rugby  |  Vleuel  |  Pro14  |  Matie  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.