Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Maties spog nou met vyf Varsitybeker-titels

In rugbytaal is dit wéér die hele jaar lente in die Boland nadat die Maties Maandagaand hul Varsitybeker-kampioenskapstitel met welslae verdedig het.

David Brits van Maties mik ’n laagvat na Erich Cronjé van UP-Tuks in die Varsitybeker-eindstryd wat Maandagaand in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch gespeel is. Maties het hul ongelooflike seisoen met ’n oorwinning van 34-12 afgesluit. Foto: Gallo Images

Of dit die ‘beste span in die geskiedenis’ was wat UP-Tuks met 34-12 in die 2019-eindstryd geklop het, is debatteerbaar. Wat egter soos ’n paal bo water staan, is dat die Maties met dié sege gewys het dat hulle nie hul gelyke in universiteitsrugby het nie.

Die Stellenbossers het voor 20 000 fanatiese ondersteuners in die Danie Craven-stadion die eerste universiteit geword wat die gesogste kroonprys in studenterugby vyf keer gewen het.

Tot watter mate die Maties die Varsitybeker-toneel die afgelope twee jaar oorheers het, blyk duidelik uit die feit dat hulle in 2018 en 2019 nie een van hul 21 wedstryde verloor het nie. Hul laaste nederlaag was in 2017 toe hulle in die eindstryd teen die einste Tukkies vasgeval het.

Dit was ook die eerste keer in vier eindstryde dat die Maties met UP-Tuks afgereken het nadat hulle in 2012, 2013 en 2017 met die silwermedalje tevrede moes wees.

Min mense sal daarvan verskil dat die tuisspan verdien het om te wen en selde gelyk het of hy die eindstryd kan verloor nadat hy reeds in die vyfde minuut die voortou met die eerste van vier drieë geneem het.

Die Tuks-ondersteuners sal eerste wees om toe te gee dat hul span ongelukkig nie hul beste vertoning vir die belangrikste 80 minute van die seisoen gebêre het nie.

Die besoekers moes die hele tyd probeer om ’n agterstand uit te wis en het bloot te veel oordeelsfoute begaan om ’n werklike gevaar vir die Maroen Masjien in te hou.

UP-Tuks is desondanks uit eie geledere geloof vir die wyse waarop hulle nooit boedel oorgegee het nie, selfs nadat die heelagter, Vaughen Isaacs, in die 65ste minuut vir ’n gevaarlike hoogvat van die veld gestuur is.

Ek het aan die begin van die seisoen nie veel hoop vir julle gehad nie, maar julle het almal verkeerd bewys deur wedstryd ná wedstryd as ’n span te groei en ondanks die uitslag ’n groot karaktertoets geslaag.
Toby Sutcliffe

“Kom ons wees eerlik met onsself: ons het nie vandag goed gespeel nie en hulle verdien daarom die oorwinning. Ek is egter persoonlik baie trots op hoe elke speler en die span deur die seisoen gegroei het,” sê Nollis Marais, die hoofafrigter.

“Uiteraard is die uitslag teleurstellend, maar ons het niks om oor skaam te wees nie omdat die rekordboeke ons as een van die twee beste spanne in die 2019-reeks sal huldig”, sê hy.

Daar was ook trooswoorde van die waarnemende direkteur van TuksSport, Toby Sutcliffe: “Ek het aan die begin van die seisoen nie veel hoop vir julle gehad nie, maar julle het almal verkeerd bewys deur wedstryd ná wedstryd as ’n span te groei en ondanks die uitslag ’n groot karaktertoets geslaag. Almal by die UP is trots op julle.”

Met die Varsitybeker-reeks verby, sal UP-Tuks se fokus nou na die plaaslike klubliga verskuif waar hulle uit die staanspoor as verdedigende Carltonliga- en Volcanobeker-kampioene in die kollig sal wees.

UP-Tuks kom in die openingsronde teen die nuwe Goue Beker-kampioen, Rustenburg-Impala, te staan.

Centurion lyk op sy beurt slaggereed nadat hy die afgelope naweek oortuigend met UJ in ’n opwarmwedstryd klaargespeel het.

Meer oor:  Maties  |  Tuks  |  Varsitybeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.