Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Maties sweet vir sege oor Wits op Tuks-stadion

Het Christian Humphries, losskakel van Wits, sy skopstewels ingepak, sou ’n sege oor die Maties hulle Sondagaand beskore gewees het.

Maar danksy sy skewe korrelwerk, het die Maties ’n gelukkige oorwinning van 19-13 in hul Varsitybeker-rugbywedstryd in die Tuks-stadion in Pretoria behaal.

Die Matie-vleuel Munier Hartzenberg het dit uiteindelik tot oor die doellyn gemaak, maar nie voordat hy en sy spanmaats behoorlik deur Wits se verdedigers vasgevat is nie. Foto: Varsity/Asem Engage

’n Mens kan jammer voel vir Wits. Hulle het verdedig asof hul lewens daarvan afhang en meer verdien.

Die Maties het vroeg reeds besef dit gaan ’n taai wedstryd wees toe Humphries in die tweede minuut ’n strafskop van 55 meter deur die pale gejaag het.

Die Stellenbossers het kort daarna die voortou geneem toe Hendrik Luus van ’n rolmaalbeweging afgerond het.

Daarna het hulle die leeueaandeel van besit gehad en veldgebied oorheers, maar telkemale in ’n muur van verdedigers vasgehardloop.

Selfs toe Jimmy Mpailane ná ’n kwartier se spel met ’n geelkaart gestraf is, kon die Maties nie ’n pad deur vind nie.

Wits het aangehou om die Maties te frustreer en hul geleentheid benut toe dit gekom het. Die Johannesburgers het die bal deur die fases geneem en Henco van Wyk het uiteindelik afgerond.

Matimu Manganyi, vaskopstut van die Maties, loop hom vas teen Wits se skrumanker, Keagan Glade. Foto: Varsity/Asem Engage

Die tweede helfte het veel dieselfde patroon gevolg met die Maties se baldraers wat afgemaai is. Dit het ’n tikkie puik spel geneem om weer oor Wits se doellyn te kom, met Munier Hartzenberg wat danksy David Brits se akkurate skopaangee kon afrond.

Daarna het Wits weer hul keer geken. Met Humphries wat nie sy skopstewels in sy toksak gepak het nie, het hulle die probleem gehad dat hulle nie die bietjie druk wat hulle gehad het in punte kon omskep nie. Ná sy indrukwekkende vroeë strafdoel het hy drie skeefgetrek.

Wits se eindpoging was sterk en die Maties het die wedstryd met 13 spelers afgesluit ná geelkaarte vir Mitchell Carstens en Leon Lyons.

Tussendeur het André-Hugo Venter egter sy pad deur Wits se hegte verdediging gestorm vir ’n drie wat eindelik die uitklophou was.

Nie dat Wits die draaiboek gelees het nie. Hulle het meedoënloos aangeval en Van Wyk het uiteindelik in doodsnikke afgerond. Daar was egter nie tyd oor om ’n wendrie te soek nie.

• Puntemakers: Maties 19 (5): Drieë: Hendrik Luus, Munier Hartzenberg, André-Hugo Venter (sewepuntdrie). Doelskop: Nevaldo Fleurs. Wits 13 (8): Drieë: Henco van Wyk (2). Strafdoel: Christian Humphries.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Varsitybeker-Reeks  |  Wits  |  Maties  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.