Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Maties wil Tuks troef by afbreekpunte

As skoolseun het die rugby wat die Maties in die Varsitybeker-rugbyreeks gespeel het, so ’n indruk op Dylan Alexander gemaak dat hy nie kon wag om Maandae dié span te sien speel nie.

Nou, ’n paar jaar later, is Alexander (’n skrumskakel) een van die staatmakers vir die Stellenbossers in dié studentereeks.

Dylan Alexander van Maties kry Hlumelo Ndudula, Wits se skrumskakel, beet toe die twee spanne in die eerste bioborrel van die Varsitybeker-reeks slaags was. Foto: Varsity Cup

Die Varsitybeker-reeks se tweede deel begin Donderdag in Pretoria en die onoorwonne Tuks wag op Alexander (19) en sy spanmaats.

Die Maties het in hul eerste wedstryd in vanjaar se reeks teen die Ikeys verloor en Alexander-hulle weet hulle sal skerper teen die Pretorianers moet wees.

“Ons was dalk in die eerste wedstryde nie so goed by die afbreekpunte nie. Juis daarom het ons in ons voorbereiding aandag daaraan gegee,” sê Alexander, wat onder sy spanmaats as Bobby bekend staan en in Paarl Gimnasium op skool was.

“Om die opwindende rugby waarvoor Maties bekend is te speel, het ons die bal nodig. Dit is daardie rugby wat toeskouers van hou om te kyk.

“Ek onthou toe ek nog op skool was, kon ek nie wag om Maandae by die huis te kom sodat ek Maties se wedstryde kon kyk nie. Laat in die middag as ons geoefen het, het ek vir coach Pieter (Rossouw, Gimmies se afrigter) gesê dat ons moet gaan, want die rugby begin nou-nou.”

Die Stellenbosse studente kan hulle maar vetsmeer vir ’n vuurwarm ontvangs in Pretoria. Behalwe dat Tuks onoorwonne is, het die Pretorianers in die eerste deel van vanjaar se reeks ’n paar keer goeie rugby opgedis.

Dylan Alexander laat die bal loop teen Wits. Foto: Varsity Cup

“Ons weet dit is altyd ’n uitdaging om teen Tuks te speel. Die wedstryd teen hulle is een van die hoogtepunte in die jaar,” sê Alexander.

“Dit is ’n wedstryd tussen noord en suid, en ons is almal opgewonde. Die ouens is kalm en positief en ons het goed voorberei.”

Tog vertel die rekordboeke jou dat Tuks laas in die eindstryd van 2017 se reeks daarin kon slaag om Maties in die reeks te klop. Die Pretorianers was destyds, op hul tuisveld, met 28-21 baas.

Maar Nico Luus, Tuks se afrigter, sê die wendroogte die afgelope paar jaar is nie ’n meulsteen om sy span se nek nie.

“Die wedstryd tussen Tuks en Maties is altyd taai en gewoonlik is die verskil tussen die twee spanne maar een of twee punte,” sê Luus.

“Dit is een van daardie wedstryde waar ek vooraf nie baie vir die spelers hoef te sê nie, hulle weet waaroor dit gaan.”

Donderdag se program:
Tuks B-veld: 14:00: Noordwes-Universiteit t. Universiteit van Wes-Kaapland, 16:00: Wits t. Ixias (albei regstreeks op kanaal 245 op now.dstv.com).

Loftus Versfeld: 15:00: Shimlas t. Ikeys, 17:00: Madibaz t. Universiteit van Johannesburg, 19:00: Tuks t. Maties (alles regstreeks op SS Variety 2, SS Rugby en GDN).

Meer oor:  Varsitybeker  |  Ydylan Alexander  |  Rugb  |  Maties  |  Tuks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.