Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
McKeever wil WP rigting in raadsaal gee

Tony McKeever, gewese uitvoerende hoof van die Southern Spears, is die dryfveer agter die voorgenome samewerkingsooreenkoms tussen die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) en die Franse klub Stade Francais, het hy Vrydag aan Netwerk24 bevestig.

Tony McKeever, voormalige grootbaas van die eertydse Southern Spears, die voorganger van die Southern Kings, wat nou gelikwideer is. Foto: Argief

Boonop is hy tans aan’t borge werf vir die WP en stel hy belang om die Kaapse unie se uitvoerende hoof te word. Daardie posisie is sedert vroeg in 2020 al vakant nadat die vorige uitvoerende hoof, Paul Zacks, bedank het. ’n Advertensie vir dié pos is verlede week op die WP se webtuiste geplaas.

“Ek sal die Stormers graag op ’n trajek wil plaas met hul skuif Europa toe. Ek het destyds die gesprekke om die Southern Kings en Cheetahs se insluiting (in die Pro14-reeks) van stapel gestuur,” het McKeever Vrydag aan Netwerk24 gesê.

“Daar’s nie ruimte vir enigiemand om op hierdie vlak te leer terwyl hy in die pos is nie. Jy gaan jou vasloop as jy nie die nodige ervaring in administrasie of kennis van onderhandeling van uitsaai- en borgskapsooreenkomste het nie.”

McKeever sê hy werk tans daaraan om Europese borge en ’n ekwiteitsvennoot vir die WP te vind. Dit het volgens hom spontaan gebeur en hy het ’n skrywe aan die WP gerig, wat volgende week bespreek gaan word.

Volgens hom het die uitlek van ’n moontlike samewerkingsooreenkoms tussen die WP en Stade Francais die planne “groot skade” berokken.

“Ek het dit geïnisieer en dis kommerwekkend dat dit in die openbare domein uitgelek het, want dit het verwronge geraak,” het hy gesê.

Ek sal die Stormers graag op ’n trajek wil plaas met hul skuif Europa toe.
Tony McKeever

Ofskoon die WPRU nooit besonderhede van ’n tugverhoor vir een van sy uitvoerende raadslede, Junaid Moerat, bekend gemaak het nie, is daar vroeër bespiegel dat hy van die lekkasie beskuldig word.

Moerat is hangende ’n tugverhoor geskors op die dag wat hy as uitvoerende hoof van die WPRU se sakevleuel begin werk het. Die tugverhoor was vir die afgelope Donderdag geskeduleer, maar is glo uitgestel.

Wat borge betref, is die WPRU op koers om vir DHL as sy hoofborg te behou. Hennie Heymans, uitvoerende hoof van DHL Express in Afrika suid van die Sahara, het aan Netwerk24 beklemtoon dat sake “positief” lyk.

’n Aankondiging word eersdaags verwag.

In die agtergrond slaan die WP egter vure dood.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het glo ’n brief aan die WPRU gerig waarin daar blykbaar kommer uitgespreek word oor die volgehoue negatiewe publisiteit en die toekoms van rugby in die streek.

Mark Alexander, president van Saru, wou nie kommentaar lewer nie.

Zelt Marais, president van die WPRU, en Ebrahim Rasool, voorsitter van die sakevleuel, sou glo Vrydag met Saru vergader het.

Dit volg op ’n brief waarin klubs vir Saru gevra het om by die WP in te gryp. Die enigste omstandighede waaronder Saru egter kan ingryp, is indien die WPRU nie meer ’n lopende saak is nie.

Netwerk24 het verneem dat binnegevegte in die WP die beroepspelers pla. Nietemin lyk dit of daar goeie vordering met kontraktering gemaak word met twee ou staatmakers, Steven Kitshoff en Scarra Ntubeni, wat glo nuwe kontrakte met die unie gesluit het.

Dit lyk ook nie asof die skote by Maandag se unie-vergadering gaan klap nie. Daar was sprake van ’n mosie van wantroue in Marais, maar die verwagting is in hierdie stadium eerder dat hy in November teengestaan gaan word.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Tony Mckeever  |  Kaapstad  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.