Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Meer suur as soet vir Hawies Fourie

Luister ’n mens na Hawies Fourie, die Cheetahs se afrigter, sou jy dink dat sy span Saterdag se voorbereidingswedstryd teen die Stormers in die Kaapstad-stadion verloor het.

Ruan Pienaar se toetrede in die tweede helfte het die Cheetahs in staat gestel om die Stormers Saterdag op die Kaapstad-stadion te klop. Foto: Gallo Images

Maar vir die beste afrigters is ’n proses belangriker as ’n uitslag en uit daardie perspektief was die broekskeur-oorwinning van 34-33 nie vir Fourie iets om oor huis toe te skryf nie.

Dít wat goed was wat hy reeds vooraf geweet het – die Cheetahs is uiters gevaarlik op die teenaanval met Clayton Blommetjies en Rosko Specman en die Springbok-veterane Frans Steyn en Ruan Pienaar die ysters.

Maar die meeste van die res het nie die prentjie vir hul afrigter ingekleur nie.

“Om eerlik te wees, was daar min positiewe dinge. As ’n mens regtig moet sê wat goed was, sal ek ons teenaanvalle noem. Clayton het ’n paar goeie besluite geneem en Rosko was gevaarlik, so daarmee was ons tevrede,” het Fourie gesê.

“Verder het ons in die vaste fasette gesukkel. Die skrums het in die tweede helfte beter geraak. Ons het ’n paar kritieke lynstaanballe verloor, nie goed gedryf nie en agterlangs baie hanteerfoute begaan. Dus is daar dinge om aan te werk.”

Die veteraan Schalk Ferreira het op loskopstut ’n nagmerrie-buiging vir die Cheetahs teen Neethling Fouché, die Stormers se jong yster-vaskopstut, beleef.

Fourie het deels vir Ferreira in die bres getree, maar meen ook dat dié veteraan sal moet besef dat hy tot beter in staat is.

“Soms is die skrum die produk van ’n spanpoging deur die voorspelers, so jy kan nie net een ou blameer nie,” het Fourie gesê.

“Ek dink tog dat Schalk ’n bietjie sal wil verbeter. Hy het wel lanklaas gespeel . . . so sal vorentoe weer op sy beste wees. Ons almal weet hy is ’n goeie skrumwerker. Ons sal met hom werk en sorg dat hy weer op sy beste is.”

Die Cheetahs het die bordjies in daardie faset later in die tweede helfte verhang, maar eers werklik die botoon begin voer nadat die Stormers se voorry van Fouché, Scarra Ntubeni en Ali Vermaak vervang was.

Uiteindelik was Pienaar die groot troef van die plaasvervangersbank af.

Dié veteraan-skrumskakel het die wedstryd in die pylvak meesterlik dikteer en ’n deurslaggewende rol gespeel om die Stormers in hul gebied neer te pen.

“Ruan het in die laaste tien minute ’n groot invloed gehad. Hy is koelkop en was al dikwels in druksituasies. Hy het die wedstryd perfek gespeel en goeie besluite in die laaste paar minute geneem. As dit nie daarvoor was nie, sou ons verloor het,” het Fourie gesê.

Puntemakers:

Cheetahs 34 (21): Drieë: Wilmar Arnoli, Rosko Specman (3). Doelskoppe: Frans Steyn (4). Strafdoele: Steyn (2).

Stormers 33 (26): Drieë: Tristan Leyds, Leolin Zas, strafdrie. Doelskoppe: Kade Wolhuter (2). Strafdoele: Wolhuter (4).

Meer oor:  Stormers  |  Cheetahs  |  Voorbereidingsreeks  |  Hawies Fourie  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.