Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Meer van SA se blasers wil die ‘Peyps’ rook

Vergete en verby is die dae toe Suid-Afrika ’n rits skeidsregters gehad het wat naweek ná naweek in beheer van groot internasionale rugbywedstryde was.

Jaco Peyper is Suid-Afrika se voorste skeidsregter. Foto: Getty Images

Ná die uittrede van André Watson, Jonathan Kaplan, Mark Lawrence en Craig Joubert, is Jaco Peyper deesdae omtrent die enigste skeidsregter van Suid-Afrika wat toetse tussen toplande beheer.

Daar is wel vier ander blasers wat ook internasionale wedstryde behartig. Hulle is Marius van der Westhuizen, AJ Jacobs, Rasta Rasivhenge en Egon Seconds.

Peyper is egter die enigste Suid-Afrikaner wat in volgende jaar se Sesnasies-reeks gaan optree.

Die Australiër Nic Berry is die enigste blaser wat twee wedstryde in dié wedstryd sal behartig (Frankryk teen Skotland en Engeland teen Italië).

Banks Yantolo, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se senior bestuurder vir skeidsregters, sê die land het tans genoeg topblasers en glo dit is net ’n kwessie van tyd voordat die ander ’n deurbraak maak.

Saru se agt skeidsregters op sy elite-paneel het van Maandag tot Woensdag in Bloemfontein saamgetrek waar hulle aan ’n hoëprestasie-oefenkamp deelgeneem het.

Hopelik sal ons teen die einde van 2019 meer as net Peyper hê wat deel is van Wêreldrugby se lys van skeidsregters wat gereeld internasionale diens doen.

Watson was tussen 1996 en 2004 in 28 toetse skeidsregter (twee daarvan was Wêreldbeker-eindstryde), Kaplan tussen 1996 en 2013 in 70 toetse, Joubert tussen 2005 en 2016 in 69 en Lawrence tussen 2000 en 2011 in 30 toetse die man met die fluitjie. Peyper het reeds 46 toetse op sy kerfstok.

“Hopelik sal ons teen die einde van 2019 meer as net Peyper hê wat deel is van Wêreldrugby se lys van skeidsregters wat gereeld internasionale diens doen,” sê Yantolo.

Hy sê 47 is min of meer die ouderdom wanneer die meeste skeidsregters in Suid-Afrika hul fluitjies bêre.

“Daar was ná die ervare groep skeidsregters (Watson en kie) heelwat jong skeidsregters wat begin deurkom het. Dan het ons iemand soos Craig verloor, wat hom by Wêreldrugby aangesluit het.

“Ek is baie beïndruk met die huidige groep wat ons het wat diens doen in die Superrugby-reeks, maar soos ek gesê het, in 2019 sal ons ’n terugkeer (na die internasionale arena) maak.”

Yantolo glo nie Suid-Afrikaanse skeidsregters hoef terug te staan vir hul eweknieë elders in die wêreld nie.

“Ek glo ons is op dieselfde vlak as die res van die wêreld. Kyk maar na wat ons doen op Superrugby-vlak, waar ons wedstryde saam met skeidsregters van Nieu-Seeland en Australië behartig.

“Dit is juis hoekom ons besluit het om in Bloemfontein saam te trek. Ons wil seker maak ons is deeglik in ons voorbereiding, want ons meet onsself aan internasionale skeidsregters. Al ons skeidsregters wil op Peyps se vlak wees, hy is nie net ons voorste skeidsregter nie, hy is ook ’n mentor,” sê Yantolo.

“Hy het goeie insette op die kamp gelewer, veral oor hoe om op die vlak te kom waar hy is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.