Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Meneer Puma’ kry top-pos in Laeveld

Toe Marius van Rensburg in 2008 by die Pumas as spanbestuurder begin het, sou hy nie in sy wildste drome kon dink dat hy meer as ’n dekade later die uitvoerende hoof van die Mpumalanga Rugbyunie (MRU) sou wees nie.

Die MRU het Dinsdag aangekondig dat die 48-jarige Van Rensburg, ’n boorling van George in die Wes-Kaap, dié posisie op 1 Januarie sal inneem.

Hy neem reeds sedert die einde van Julie gesamentlik in die pos waar nadat Pieter Burger die unie verlaat het en as besturende direkteur van die Ellispark-stadion in Johannesburg aangestel is.

Marius van Rensburg is die nuwe uitvoerende hoof van die Mpumalanga Rugbyunie. Foto: Facebook | Pumas

Die MRU het toe gesê dat Van Rensburg – tesame met die MRU-president, AG Visser, en bestuurder van amateursake, Roelof Kotze – tot tyd en wyl die take van uitvoerende hoof sal vervul.

Die direksie het egter nou besluit om Van Rensburg, wat in 2015 tot bedryfsbestuurder bevorder is, aan te stel.

“Weet jy, ek is net hier om die werk te doen. Eintlik is ek al vier maande in die pos sedert ek die leisels by Pieter oorgeneem het,” sê Van Rensburg.

“So nie baie gaan verander nie, eintlik is dit nou net soos ’n stempel, jy weet, ’n bevestiging dat die werk myne is. Dinge werk goed hier by ons, ek het ’n goeie verhouding met coach Jimmy (Stonehouse, afrigter van die Pumas).

“Maar ek het ook ’n goeie verhouding met die direksie. In al die jare wat ek hier is, het ek geleer en gesien wat hier aangaan. Destyds toe ek hier as spanbestuurder begin het, sou ek nooit kon dink dat ek eendag die uitvoerende hoof sal wees nie.

“Die Pumas lê my baie na aan die hart. Ons het dieselfde uitdagings as wat die ander unies ook maar het, maar die wonderlike ding is dat ons borge het wat ons steeds ondersteun.”

Dit is bekend dat Van Rensburg hoë aansien onder die spelers geniet en ook respek in die bedryf afdwing. Stonehouse praat met lof van “Meneer Puma” – soos hy na Van Rensburg verwys.

Van die eerste dag dat ek hom ontmoet het, het ek geweet Marius is iemand met integriteit, wat oor ’n goeie werketiek beskik. Dit is nou behalwe sy rugbykennis en oog vir talent.
Jimmy Stonehouse

“Wat my betref, was dit net ’n kwessie van tyd voordat hy die pos sou kry. Hy moes eintlik al lankal in so ’n pos gewees het. Sommige ouens sien ’n pos soos hierdie by ’n kleiner unie as ’n stepping stone na iets groters. Maar Marius is in hart en siel ’n Puma en ek weet hy sal die unie se beste belange op die hart dra.”

Visser sê nadat goedkeuring ontvang is om die pos te vul, het die soektog na ’n geskikte kandidaat begin.

“Dit was ’n baie geloofwaardige proses, waar ons mense genader het en gevra het of hulle hulself beskikbaar sal stel. Ons het ’n kortlys van vyf mense gehad en ons is werklik geseënd dat dit almal baie sterk kandidate was,” sê hy.

“Dit wat Marius na die tafel gebring het, het ons gevoel is wat nodig is om die unie vorentoe te neem.”

• Van Rensburg wou hom nie uitlaat of ’n toets in 2021 se Rugbykampioenskap aan die Pumas toegeken gaan word nie – “omdat ons nog nie weet hoe die formaat volgende jaar daar gaan uitsien nie”.

Die Springbokke was veronderstel om vanjaar vir die eerste keer teen die All Blacks in Mbombela te speel, maar dié kragmeting, is soos vele ander weens Covid-19 gekanselleer.

Meer oor:  Pumas  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.