Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Merkwaardige McKinley bêre sy rugbybril

Ian McKinley, die voormalige Ierse o.20-speler wat die verlies van sig in sy linkeroog oorkom het om internasionale rugby vir Italië te speel, het finaal uitgetree.

Ian McKinley het nege toetse vir Italië gespeel, al het hy die sig in sy linkeroog verloor. Foto: Getty Images

Die 31-jarige losskakel het nege toetse vir die Azzurri gespeel ná sy suksesvolle veldtog om die dra van ’n spesiale bril in die sport te wettig.

McKinley is aanvanklik in 2010 genoop om rugby vaarwel toe te roep nadat hy raak getrap is in ’n wedstryd in sy tuisstad, Dublin. Sy linkeroog is deurboor en die retina het losgeskeur.

Hy het na Italië verhuis om daar af te rig, maar dit was nie lank nie voordat hy vir die Leonorso-klub in die Italiaanse derde liga begin speel het. Hy het later met sy kenmerkende bril vir grotes soos Viadana, Zebre, Benetton en uiteraard die nasionale span uitgedraf.

Rugby365 berig McKinley woon nou saam met sy vrou, Cordelia, in Noord-Ierland, waar hy ’n plaaslike klub afrig. McKinley het vandeesweek bevestig hy het sy laaste wedstryd gespeel nadat hy Benetton einde verlede jaar verlaat het.

“My eerste uittrede was moeilik om te aanvaar, maar hierdie keer is ek gelukkig om die spel op my eie voorwaardes te verlaat,” sê hy.

“Ek is veral tevrede met die feit dat ek ander swaksiende spelers nuwe hoop kon bied. My suksesvolle veldtog om die reëls aan te pas, sal vir altyd ’n bron van enorme prestasie en trots wees.”

Hy bedank dan al die spanne, afrigters en personeel waarvan hy lid was en by wie hy betrokke was en veral diegene in Italië wat bereid was om hom ’n tweede kans te gun.

“My grootste dank gaan egter aan my wonderlike vrou, familie en vriende, wat my deur my donkerste dae gehelp dra het. Hulle het my dwarsdeur my loopbaan onvoorwaardelik bygestaan,” sê hy.

“Ek sien uit na wat die toekoms inhou.”

– Sportredaksie

Meer oor:  Toetsrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.