Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Mexted loof Bokke, maar waarsku tog

Suid-Afrika is die span om te klop by vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Só sê Murray Mexted, legendariese All Black-agsteman van die 1980’s en die besturende direkteur van Nieu-Seeland se International Rugby Academy.

Pollie ewenaar Suidelike Halfrond-rekord in Salta
Pollie ewenaar Suidelike Halfrond-rekord in Salta.

Mexted, wat die All Blacks in ’n rekord-34 toetse op agtsteman verteenwoordig het (1979-’85), en sewe keer met die Springbokke slaags was, het dié uitlating vandeesweek gemaak in die nadraai van die Kiwi’s se rekordnederlaag van 27-46 teen Australië, en Suid-Afrika se gevolglike oorwinning in vanjaar se Rugbykampioenskap.

“Die Wallabies het ons behoorlik opgefoeter,” erken Mexted.

“En die gelykopuitslag van twee weke vroeër in Wellington was basies ’n oorwinning vir die Bokke. Dit het hul selfvertroue die wêreld se goed gedoen. Ons het ’n monster help skep wat die Poemas verlede week in Salta eenvoudig verpletter het.

“Suid-Afrika is myns insiens die groot gunstelinge om vanjaar die Wêreldbeker te wen.”

Volgens Mexted het Suid-Afrika die beste losskakel in wêreldrugby en uitstekende leierskap. Met Beauden Barrett wat tans op heelagter ingespan word, is Handré Pollard die ooglopende uitblinker op nr. 10,” sê dié uitgesproke Kiwi-legende.

“Pollard is ’n puik gebalanseerde speler, op sowel aanval as verdediging, en hy is ongetwyfeld ’n uitstekende stelskopper.

“Wat leierskap betref, stel Duane Vermeulen die voorbeeld met sy houding op en van die veld af, terwyl Rassie Erasmus ’n uiters uitgeslape breier is. Sy wedstrydplan in Wellington was geheel en al op verdediging geskoei.

“Daar was duidelik geen risiko ter sprake nie, met Faf de Klerk wat knaend die bal hoog in die lug gepeper het met die oog daarop om vir balbesit in die opposisie se gebied te wedywer. En, met Damian de Allende wat op geen stadium gedurende die 80 minute die bal uitgegee het nie, was dit beslis nie Superrugby nie. Dit was klassieke, wen-teen-alle-koste-toetsrugby.

“Boonop is die Bokke massief voor en het hulle hope spoed agterlangs. Die res van die wêreld moet lig loop.”

Mexted skryf die All Blacks egter geensins af nie.

“Ek was nog altyd ’n aanhanger van Steve Hansen en kie. Hulle het hulself tot dusver uitmuntend van hul taak gekwyt. Hulle sal egter objektief die werklikheid in die gesig moet staar.

“As ’n kombinasie is die All Blacks onbestendig vanweë eksperimentele skommelinge en ’n obsessie om bykomende diepte in sekere posisies te skep. Hansen-hulle moet terugval op staatmakers en kombinasies wat hulself lank reeds bewys het.

“So, byvoorbeeld, moet Barrett (losskakel) en Ben Smith (heelagter) in die posisies gekies word waar hulle hulself as die bestes in die wêreld onderskei het.

“In die middelveld behoort Ngani Laumape en Anton Lienert-Brown op senter te begin, met Ma’a Nonu wat van die bank af ’n impak lewer.

“Die lostrio is nóg ’n gebied wat aandag verg.

“Konsekwente, logiese spankeuses kan steeds die Wêreld­bekertoernooi in die All Blacks se guns swaai.”

Meer oor:  Wêreldbekerrugby  |  Japan  |  Nieu-Seeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.