Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Miaau, sê die Leeus in Kaapstad
Len Massyn was een van die min uitblinkers vir die Leeus in Saterdag se wedstryd teen die Stormers in die Kaapstad-stadion. Foto: Gallo Images

Die Leeus het danksy hul voorbereidingswedstryde ’n goeie blik op hul jong spelers gekry, maar skram nie weg daarvan dat hulle Saterdagaand in die Kaapstad-stadion teen die Stormers naam weggegooi het nie.

“Vir ’n span wat die vermoë het om rugby te speel en trots put uit die gehalte van sy aanvallende spel, was dit baie sleg,” het Mziwakhe Nkosi, die Leeus se afrigter, agterna gebieg.

“Dit was ’n baie teleurstellende vertoning. Ons het aan energie en dringendheid ontbreek. Selfs al was dit ’n opwarmwedstryd het ons steeds in ’n Leeus-trui opgedraf, so dis ’n teleurstelling.”

Die Leeus het eers in die 70ste minuut punte aangeteken toe MJ Pelser afgerond het danksy ’n puik dwarsskop deur Fred Zeilinga. Hulle het wel vroeër geleenthede gehad, maar telkemale misgetas.

“Ons het ons eie ondergang bewerkstellig,” sê Nkosi.

Die Stormers het drie drieë afgerond danksy ons wat omkeerbesit afgestaan het. Só goed soos ons hanteerwerk verlede week (teen die Haaie) was, só swak was dit hierdie week.
Mziwakhe Nkosi

“Die Stormers het drie drieë afgerond danksy ons wat omkeerbesit afgestaan het. Só goed soos ons hanteerwerk verlede week (teen die Haaie) was, só swak was dit hierdie week.”

Daar sal in die komende dae uitsluitsel gekry word oor die erns van die Springbok-losskakel Elton Jantjies se enkelbesering, maar in hierdie stadium lyk dit nie asof die Leeus slapelose nagte oor hul kaptein het nie. Suid-Afrika se spanne is immers eers weer op 24 April in die Reënboogbeker-kompetisie in aksie.

Elton Jantjies speel sy rugby op die fyn lyn tussen skouspelagtig en rampspoedig – en hy gee nie om hoeveel kritiek hy daaroor kry nie. Foto: Gallo Images

Jantjies het die veld ná ’n halfuur se spel verlaat.

“Ons was versigtig met Elton. Hy het waarskynlik sy enkel in ’n losskrum of in kontak geswik. Ons het gedink dit sal beter wees om hom net af te haal,” verduidelik Nkosi.

“Die mediese personeel sal dit onder oë neem en ons sal in die komende dae ’n beter prentjie hê.”

Nkosi sê dat daar nie verskonings vir die Leeus se swak samespel is nie.

“Ons het geweet dat die veranderings aan die span ons sinergie negatief kan raak, maar dis nie ’n verskoning nie. Op die einde van die dag oefen ons al vir ’n ruk saam. Die veranderings kan nie as verskoning gebruik word vir die feit dat ons binne die eerste 20 minute reeds met 0-21 agter was nie.”

Daar is ’n groter prentjie en in daardie opsig is Nkosi nie in sak en as nie. Só teleurstellend as wat Saterdag se vertoning was, het hulle immers ook die vorige naweek met die Haaie afgereken.

’n Voorbereidingsreeks gaan oor die proses eerder as die uitkoms.

Een van die dinge wat ons wou doen, was om ons jong spelers op die proef te stel. Ons het ’n paar wat baie talentvol is. Daardie doelwit is bereik.
Mziwakhe Nkosi

“Een van die dinge wat ons wou doen, was om ons jong spelers op die proef te stel. Ons het ’n paar wat baie talentvol is. Daardie doelwit is bereik,” sê hy.

“Ons het ook oorwinnings teen sterk Pumas- en Haaie-spanne, so ons is eintlik nie baie ontevrede met hoe dit in die voorbereidingsreeks gegaan het nie.

“Ek dink dit was baie nuttig en het ons ’n duidelike prentjie gegee van waar ons met ’n paar spelers staan, sowel as hul vermoë om die pyp op senior vlak te kan rook.

“Daar’s ’n speler of twee wat hand opgesteek het en dis fantasties.”

Meer oor:  Mziwakhe Nkosi  |  Johannesburg  |  Kaapstad  |  Voorbereidingsreeks  |  Afrigter  |  Rugby  |  Stormers  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.