Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Minder foltering asseblief, pleit Dobson
Die Stormers-senter Dan du Plessis maak gereed om die Leeus se Morné van den Berg Saterdag op Ellispark af te stamp. Du Plessis het twee drieë bygedra in sy span se naelskraapse sege. Foto: Gallo Images

Hy kan nie deur nog drie Saterdae van “absolute foltering” ná die toeter gaan nie, het die Stormers-afrigter, John Dobson, ná sy span se broekskeur-sege Saterdag oor die Leeus op Ellispark gesê.

“Verlede naweek teen die Haaie was ons ongelukkig, en die week was ons gelukkig,” het Dobson gesê ná sy span danksy ’n strafdoel in die 83ste minuut met 39-37 gewen het.

“Darem kan ’n mens sien ons is elke week beter, maar vandag (Saterdag) het ons vier of vyf geleenthede daarbuite gelos omdat die laaste aangeë nie gewerk het nie. Ons moet beter as dit doen.”

Dobson was vanselfsprekend ’n verligte man ná die Stormers twee naelskraap-nederlae teen die Bulle en Haaie kon opvolg met ’n sege wat uit die kake van nog ’n nederlaag gered is.

Die Leeus het dit reggekry om die Stormers-skrum onder druk te plaas en het met tye kringe om die Kapenaars gehardloop, maar ook groter kalmte gewys en dit reggekry om vir meer as 80 minute in die dun Hoëveldlug staande te bly.

Laasgenoemde, sê Dobson, is die vrugte wat hulle nou pluk vir die hoë intensiteit waarmee hulle elke week die oefenveld betree.

“Ons het in die voorbereidingsreeks besluit ons wil meer aanvallende rugby speel, maar om dit te doen én sterk in die skrums en losgemale te wees, is buitengewone kondisionering nodig,” sê die breier.

“(Die intensiteit in) ons oefeninge is hoër as wedstryd-intensiteit en die hardste wedstryd wat ons spelers in ’n week het, is op ’n Woensdag.

“Dit werp nou vrugte, want ek is seker almal sal saamstem ons was in al drie ons laaste wedstryde baie energiek in die laaste vyf minute.

“Dit is so dat daar ’n mate van desperaatheid is, want ons speel om te wen, maar ons kan so lank uithou omdat ons baie hard werk aan ons fiksheid.”

Die laaste vyf minute van Saterdag se wedstryd was inderdaad die belangrikste van die hele kragmeting.

Met vier minute oor op die horlosie was die Leeus met 37-29 voor ná ’n uitmuntende drie deur Rabz Maxwane en het dit gelyk of die slag gelewer is. Maar toe Johan du Toit deur ’n gaping bars en Dan du Plessis voer vir sy tweede drie van die middag, was daar ’n enkele punt tussen die spanne, met die uurglas op sy laaste.

Daar was net 15 sekondes oor op die horlosie toe Willem Alberts wegbreek van ’n losgemaal en gestraf word omdat hy aan die bal geklou het. Van daar kon die Stormers besit lank genoeg behou om ’n strafskop reg voor die pale te kry en die wenpunte aan te teken.

“Ons het (in die wedstryd as geheel) vier of vyf geleenthede daarbuite gelos en onsself onder druk geplaas, maar ek het gedink ons het wonderlike karakter getoon aan die einde,” het Dobson gesê.

“In die afgelope maande was daar vyf wedstryde waarin ons 12 of so punte voor was, maar die teenstanders teruggelaat het en die wedstryd verloor het. Ons moes regtig hard werk (om die bordjies te verhang).

“Ek voel jammer vir die Leeus, hulle was regtig ongelukkig. Maar as jy kyk na die balans van ons laaste drie wedstryde, het ons verdien dat die bal ’n slag in ons guns hop.”

• Puntemakers:

Stormers 39 (15): Drieë: Dan du Plessis (2), Bongi Mbonambi, Marcel Theunissen, Edwill van der Merwe. Doelskoppe: Abner van Reenen (2), Tim Swiel (2). Strafdoele: Van Reenen, Swiel.

Leeus 37 (22): Drieë: Wandisile Simelane, MJ Pelser, EW Viljoen, André Warner, Rabz Maxwane. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (3). Strafdoele: Hendrikse (2).

Meer oor:  John Sobson  |  Stormers  |  Leeus  |  Tugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.