Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Minder foute, beter dissipline, vra Hawies
William Small-Smith kan moontlik die naweek terugkeer na sy gunsteling-posisie, senter, in die Pro14-wedstryd teen die Scarlets in Llanelli. Foto: Mlungisi Louw

Die Cheetahs weet ’n steil bult wag op hulle wanneer hulle die Scarlets Saterdag in Llanelli in ’n Pro14-wedstryd pak.

Albei spanne was verlede naweek aan die verloorkant, maar die Scarlets het ’n lelike drag slae (7-46) weg van die huis teen Edinburgh gekry, terwyl die Cheetahs naelskraap met 22-24 teen Connacht vasgeval het.

“Die Scarlets sal beslis wil vergoed vir hulle groot nederlaag teen Edinburgh, maar ons was ook nie aan die wenkant nie, so ons wil ook weer op die wenpad kom,” laat weet die breier, Hawies Fourie, uit Cardiff.

Ons was ook nie aan die wenkant nie, so ons wil ook weer op die wenpad kom.
Hawies Fourie

Die Cheetahs het Dinsdag in die Walliese hoofstad aangekom en sal daar voorberei vir Saterdag se kragmeting.

Fourie het nie doekies omgedraai oor wat moet verbeter vir die wedstryd teen die Scarlets nie.

“Ons fokus hierdie week gaan wees om onder meer beter af te rond. Ons het baie foute gemaak in die wedstryd teen Connacht – 15 hanteerfoute – en ons sal dit vir seker wil verminder, ons kan beter vaar as dit.

“Dan moet ons dissipline ook baie beter wees, want ons het te veel strafskoppe afgestaan,” sê Fourie.

Hy sê die Cheetahs se doelwit vir die toer was om al drie hulle wedstryde te wen en met die Connacht-wedstryd nou vergete, moet hulle hul aandag vestig op die oorblywende twee van die toer teen die Scarlets en die Cardiff Blues.

“Ons weet ons kon die Connacht-stryd gewen het, maar ons het nie. Ons moet nou daarop fokus om onsself ’n goeie kans te gee om die wedstryde teen die Scarlets en Cardiff Blues te wen.”

Die Cheetahs-senter Dries Swanepoel.

Die afrigtingspan het intussen vrede daarmee gemaak dat hulle moontlik vir minstens drie weke sonder die dienste van die senter Dries Swanepoel sal moet klaarkom ná sy rooikaart-oortreding teen Connacht.

Swanepoel se tugverhoor behoort vroeg Woensdag afgehandel te wees en Fourie sê hulle dink nie Swanepoel gaan ’n skorsing van minder as drie weke opgelê word nie.

Hy sê dat dit sal meebring dat hy William Small-Smith of Louis Fouché in Swanepoel se plek sal kies.

Dit sal beteken Clayton Blommetjies behoort weer op vleuel ingespan te word teen sy ou span.

Craig Barry, wat op bystand is, sal hom moontlik na Cardiff haas en kan hom op die plaasvervangersbank bevind.

Die stut Reinach Venter het hom intussen ook Dinsdag by die groep in Cardiff aangesluit.

* Intussen het Fourie-hulle Dinsdag beeldmateriaal aan die Pro14-reeks se skeidsregterbaas, Greg Garner, gestuur, waarin hulle hul ontevredenheid met van die beslissings deur die skeidsregter in die wedstryd teen Connacht, Ben Whitehouse, uitwys.

Ons sal sien wat hulle sê, maar dit gaan nie die uitslag verander nie. Ons sal dit moet aanvaar en aanbeweeg.
Hawies Fourie

“Ons het beeldmateriaal gestuur, so ons sal sien wat hulle sê, maar dit gaan nie die uitslag verander nie. Ons sal dit moet aanvaar en aanbeweeg.

“Dit gaan nie help om te lank daarop te bly fokus nie.”

Meer oor:  Hawies Fourie  |  Bloemfontein  |  Rooikaart  |  Afrigter  |  Dissipline  |  Pro14  |  Cheetahs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.