Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Mishandelde’ WP-blasers staak

Genoeg is genoeg!

So sê die Westelike Provinsie se woedende rugby-skeidsregtersvereniging oor die “mishandeling” van sy blasers en daar is gevolglik besluit op ’n staking, wat vandeesweek reeds groot ontwrigting in die WP Rugbyunie (WPRU) se klubligas tot gevolg het.

Die kennisgewing dat daar Donderdag met die WPRU se uitvoerende raad vergader gaan word.

Wedstrydbeamptes is ook gegrief dat die WPRU agterstallig is met betalings aan hulle, maar die grootste bron van hul ontevredenheid spruit uit etlike voorvalle van geweld, intimidasie, doodsdreigemente en skeltaal uit klubgeledere teenoor skeidsregters.

In ’n onlangse voorval is een van die WP se mees senior skeidsregters in die gesig getref deur ’n bottel wat na hom geslinger is. ’n Jong skeidsregter is op sy beurt deur die kaptein van ’n klubspan rondgestamp.

Die staking deur skeidsregters het reeds ernstige nagevolge gehad met klubwedstryde wat nie Woensdag gespeel kon word nie en dit lyk onwaarskynlik dat die Skeidsregtervereniging se griewe voor die ronde wedstryde dié naweek getakel gaan word.

Daar is wel ingestem tot ’n dringende vergadering Donderdag met die WPRU se uitvoerende raad, maar Joey Klaaste-Salmans, die voorsitter van die Skeidsregtersvereniging, sê enige onderneming wat daar aan hom gegee word, sal eers met sy lede bespreek moet word. Hy sien nie hoe dit voor vroeg aanstaande week sal kan gebeur nie.

Hy gaan nie toelaat dat die WP se base hom met mooipraatjies paai nie.

“Daar is twee groot kwessies. Die eerste is die mishandeling en die tweede die betaling van skeidsregters. Ek soek iets in swart op wit van die WPRU, sodat ons hulle aanspreeklik kan hou,” sê Klaaste-Salmans.

Joey Klaaste-Salmans. Foto: Argief

Hy wil ook hê dat klubs dadelik vir voorvalle geskors word en dat tugverhore nie sloer nie. Hy wil ook hê dat die WPRU openbaar standpunt moet inneem teen die onaanvaarbare gedrag teenoor wedstrydbeamptes.

Die Skeidsregtersvereniging het in 2018 ’n soortgelyke stap gedoen, hoewel dit toe op ’n kleiner skaal was. Slegs een wedstryd is toe geraak en die WPRU het dit omseil deur ’n skeidsregter uit die Boland te kry om in te staan.

Hierdie keer is daar egter te veel gate in die damwal vir die WPRU om toe te stop.

“Hulle kan nóg skeidsregters van die Boland af inbring, maar dan sal daardie skeidsregters vir twee of drie weke of ’n maand moet bly,” sê Klaaste-Salmans.

Hy sê daar word by klubwedstryde “liederlike taal” teenoor skeidsregters gebruik. “Dis oor ’n ou se ma en dit en dat. Die mishandeling raak vir ’n paar maande al net erger. Geeneen van my skeidsregters sal hul vroue en familielede na wedstryde toe neem nie,” sê hy.

“Van die skeidsregters wil nie wedstryde van sekere klubs hanteer nie.”

Hy sê dat die verskynsel van mishandeling van skeidsregters van klubs van die topligas tot onder ’n probleem is. Van die klubs maak hulle wel nie aan wangedrag skuldig nie.

Volgens Klaaste-Samuels is skeidsregtersgetalle aan die afneem en hy het nie veel hoop vir die WP se werwingsproses tussen November en Januarie nie.

“Ons het 160 skeidsregters op ons boeke, waarvan net 120 aktief blaas. Ons kan nie vir al die wedstryde skeidsregters verskaf nie,” sê hy.

Klaaste-Salmans sê klubs wat wedstryde aanbied, is volgens die wet verplig om veiligheidsmaatreëls te hê.

“Die Boland word baie gekritiseer, maar het by wedstryde vir elke skeidsregter twee veiligheidswagte. Die skeidsregters word gesê waar om te parkeer en word deur die wagte vergesel,” sê Klaaste-Salmans.

Al 14 Suid-Afrika se rugbyunies het al vir Klaaste-Salmans gekontak om hom te ondersteun. “Dis ’n Suid-Afrikaanse klubprobleem, nie net ’n WP-een nie,” sê hy.

* Die WPRU het nie op ’n versoek om kommentaar te lewer, gereageer nie.

Meer oor:  Blasers  |  Klubrugby  |  Wpru  |  Skeidsregters  |  Staking  |  Wp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.