Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Mitchell lugtig vir Pocock-faktor op Loftus

Die Bulle kry Saterdagmiddag op Loftus Versfeld met ’n ou nemesis van Suid-Afrikaanse rugby te doen – David Pocock.

Die Pocock-faktor. Die ervare David Pocock in aksie vir die Brumbies. Foto: Getty Images

Indien die leser se geheue verfris moet word, dit is daardie Wallaby-baldief wat in kwarteindstryd van die Wêreldbeker-toernooi in 2011 (met die hulp van Bryce Lawrence) die Springbokke se drome op ’n Sondagaand in Wellington, Nieu-Seeland, verydel het.

Veral die tuisspan se afrigter, John Mitchell, is deeglik bewus van die gevaar wat Pocock inhou wanneer die Bulle die Brumbies in ’n Superrugby-stryd trotseer.

Mitchell en die 30-jarige Pocock kom al ’n lang pad saam.

“Dit is goed om te sien hy is terug ná twee ernstige kniebeserings.

“Ek onthou hoe ek hom destyds as ’n 17-jarige by die Western Force gekontrakteer het.

“Daar was ’n dag wat ek en (die voormalige Wallaby-haker) Brendan Cannon tydens ’n oefening verstom gestaan en kyk het hoe hy as ’n seun onder die manne ingeklim het.

“Hy het net geen respek vir die ouer ouens in die span gehad nie.”

Mitchell moes toestemming by Pocock se ouers kry sodat hy op 17 vir die Force in ’n opwarmingswedstryd kon speel.

Die Australiese Rugbyunie (ARU) het ook destyds – weens Mitchell se versoek dat Pocock moet speel – sy reël dat geen speler onder 18 vir ’n Superrugby-franchise mag speel nie, verander.

“Hy is ’n fenomenale atleet en ’n nederige en respekvolle mens. Die standaarde wat hy op en van die veld stel, is indrukwekkend.

Sulke ouens is goed vir die spel en die Brumbies is baie gelukkig om iemand met sy vermoëns in die span te hê.
John Mitchell

“Sulke ouens is goed vir die spel en die Brumbies is baie gelukkig om iemand met sy vermoëns in die span te hê.”

Mitchell sê hoewel Pocock “’n groot teenwoordigheid op die veld het”, het die besoekers ’n hele paar gevaarmanne.

Nic de Jager is in Thembelani Bholi se plek gekies om Roelof Smit by die afbreekpunte by te staan teen Pocock.

Mitchell se eweknie, Dan McKellar, het op sy beurt die sterk baldraer Lachlan McCaffrey in sy lostrio gekies.

Burger Odendaal, die Bulle se kaptein, sê hulle is oorgehaal om die Spook van Buenos Aires vroeg-vroeg teen die Brumbies te verjaag.

“Die Brumbies is ’n goed gebalanseerde span en ons gaan akkuraat moet wees. Dinge het nie verlede week (teen die Jaguares) volgens plan verloop nie en die ouens is oorgehaal om daarvoor te vergoed op ons tuisveld.”

* Die span van Canberra sal hoogs gemotiveerd wees om die Bulle te troef, met dié franchise wat ’n beroep op sy ondersteuners en aandeelhouers gedoen het om die span te ondersteun.

Toeskouergetalle vir die Brumbies se tuiswedstryde het skerp gedaal vanjaar en Michael Thomson en Phil Thomson, onderskeidelik uitvoerende hoof en voorsitter van die Brumbies se raad, waarsku in ’n e-pos die “Brumbies kan ophou bestaan” as ondersteuners nie terugkeer na die Canberra-stadion nie, berig smh.com.au.

Dié tipe waarskuwing sal sonder twyfel die Brumbies motiveer om die Bul by die horings te pak.

Spanne:

Bulle: Warrick Gelant, Travis Ismaiel, Jesse Kriel, Burger Odendaal (k), Johnny Kotze, Handré Pollard, Ivan van Zyl, Marco van Staden, Nic de Jager, Roelof Smit, RG Snyman, Jason Jenkins, Conraad van Vuuren, Jaco Visagie, Trevor Nyakane. PLAASVERVANGERS: Adriaan Strauss, Mox Mxoli, Matthys Basson, Ruben van Heerden, Thembelani Bholi, André Warner, Manie Libbok, Divan Rossouw.

Brumbies: Tom Banks, Henry Speight, Tevita Kuridrani, Kyle Godwin, Andrew Muirhead, Christian Lealiifano (k), Joe Powell, Isi Naisarani, David Pocock, Lachlan McCaffrey, Sam Carter, Blake Enever, Allan Alaalatoa, Folau Fainga’a, Scott Sio. PLAASVERVANGERS: Robbie Abel, Nick Mayhew, Ben Alexander, Richie Arnold, Matt Lucas, Richie Arnold, Wharenui Hawera, Andrew Smith.

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen (SA).

Assistent-skeidsregters: AJ Jacobs, Jaco Pretorius (albei SA).

TV-skeidsregter: Willie Vos (SA).

TV: 15:05 (SS 1 en M-Net).

Meer oor:  Brumbies  |  David Pocock  |  Loftus Versfeld  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.