Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Mnisi sê Brent het hom help vorm

Brent Janse van Rensburg, wat onlangs deel van die Haaie se afrigtingspan geword het, het ’n belangrike rol in sy loopbaan gespeel, sê die Southern Kings-senter Howard Mnisi.

Die 30-jarige Mnisi het in 2012 en 2013 vir die Madibaz in die Varsitybeker-reeks gespeel toe die Baaise studente deur Janse van Rensburg afgerig is.

Howard Mnisi wil sy loopbaan weer by die Kings laat vlamvat. Foto: Southern Kings

“Brent was vir my ’n goeie mentor. Hy het my goeie leiding gegee en hy weet hoe om met jonger spelers te werk,” sê Minisi.

Mnisi sê Janse van Rensburg is iemand wat in streng dissipline glo en dat hy daarop aandring om dinge op sy manier te doen.

“Dit wat hy intussen bereik het, spreek vanself,” sê Mnisi oor die breier wat die afgelope paar jaar heelwat hoogtepunte saam met die Boland, Pumas en vanjaar ook Griekwas behaal het.

Voor Janse van Rensburg het Roelof Kotzé by die Haaie se Akademie volgens Mnisi hom ook as speler help vorm.

Mnisi is in 2013 as die beste agterspeler in die Varsitybeker-reeks aangewys, maar Alan Solomons, wat toe die Southern Kings se hoofafrigter was, het hom nie by dié franchise speelkans gegee nie.

“Ek sou natuurlik graag toe al vir die Kings wou gespeel het, maar ek was ook baie op my studies (in openbare betrekkinge) gefokus,” sê Mnisi.

“Die Kings het toe ook goeie senters soos Shane Gates en Hayden Parkes gehad, so ek het dit aanvaar dat ek nie kans gekry het nie.”

Mnisi het wel besluit om sy studies af te skaal toe hy dieselfde jaar by die Cheetahs kans gekry het om Superrugby te speel.

Van daar af is hy na die Leeus, waar hy in ’n stadium sekerlik bitter naby aan die Springbok-span moes gewees het.

Brent Janse van Rensburg was een van die afrigters wat Howard Mnisi as speler help ontwikkel het. Foto: Gallo Images

“Ek dink ek het van my beste rugby gespeel net voor ek in 2017 ’n ernstige kniebesering opgedoen het,” sê Mnisi.

“Die besering het my ’n jaar buite aksie gehou en het my loopbaan beslis ’n knou gegee.”

Mnisi het in 2018 weer begin speel, maar kon nie weer ’n kontrak by die Leeus kry nie.

Hy is dankbaar vir sy tyd daar en prys die afrigter Swys de Bruin vir sy aandeel in sy ontwikkeling as speler.

Nou is hy eindelik by die Kings en is die student van 2013 ’n veteraan en mentor vir die jonger agterspelers.

“Daar is goeie mededinging vir plekke in die Kings se middelveld en dit is hoe dit moet wees,” sê hy.

Die Kings speel volgende Saterdag teen die Cardiff Blues in ’n Pro14-wedstryd in die Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth.

Meer oor:  Pro14  |  Howard Mnisi  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.