Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Moeë Cheetahs moet hitte ook trotseer

Asof die lengte van die Cheetahs se seisoen nie reeds rekordafmetings aanneem nie – wat spelers vatbaar vir beserings maak – moet hulle teen die Vrystaatse hitte ook beskerm word.

Makazole Mapimpi, vleuel van die Cheetahs, waardeer Maandag ’n waterbottel tydens ’n oefensessie. Die span kan tot 2 Desember nog hittige toestande verwag waarin geoefen en gespeel moet word. Foto: Mlungisi Louw

Die Cheetahs, wie se seisoen al einde Januarie met ’n toer na Zimbabwe begin het, het nog twee kragmetings in 2017 om te voltooi. Hulle kom Vrydag in die Pro14-reeks teen Edinburgh en op 2 Desember teen die Scarlets, albei in Bloemfontein, te staan.

Spelers sou voorheen hierdie tyd van die jaar van ’n ruskans van drie weke teruggekeer het vir voorseisoen-voorbereiding.

Volgens die span se kondisioneringsafrigter, Quintin Kruger, moet die spelers nou uiters versigtig bestuur word.

“Die risiko’s vir beserings is tans soveel groter. Die hitte kan maklik sagteweefselbeserings soos aan die lies, kuit of dyspier veroorsaak. Sessies is dus korter met meer waterbreuke.

“Spelers, wat al heeljaar speel, se werkslading moet ook goed bestuur word. Die balans tussen werk en rus is nou van kardinale belang.

“Die spelers het die jaar net by drie geleenthede vir ’n week afgehad waarin daar steeds ’n dag of twee geoefen is. Vir ’n fisieke sport is dit nogal taai,” sê Kruger.

Torsten van Jaarsveld, haker van die Cheetahs, het soos al sy spanmaats nie aan die begin van die jaar geweet hulle sou laat in November nog vir twee wedstryde voorberei nie. Foto: Mlungisi Louw

Die kwik het Maandag tot 33°C in die Rosestad gestyg. Dít teenoor maksimum temperature wat vandeesweek enkelsyfers in Edinburg, Skotland is.

Kruger sien die hitte as ’n besliste voordeel vir die Cheetahs. “Ek dink dis moeiliker om van koue toestande in hitte aan te pas as andersom. Daarby is die lugdruk hier ook ’n faktor. ’n Mens is dankbaar vir die wedstryde wat in die aand gespeel word, maar ons sou nie omgegee het om die Europese spanne ’n bietjie aan die ware Afrika-hitte bloot te stel nie.”

Die Cheetah-spelers sal ná die stryd teen die Scarlets tot 27 Desember af hê. Hulle vertrek kort ná Nuwejaar na Europa vir ’n wedstryd op 6 Januarie teen Benetton. Die seisoen sal in Mei eindig.

  • Die Cheetahs gaan waarskynlik geskiedenis maak vir ’n mededingende wedstryd in vyftienmanrugby wat so laat as 2 Desember in Suid-Afrika gespeel word. Die Kings speel sy laaste wedstryd op 1 Desember. Die Springbokke se toets teen Frankryk op 8 November 1980, wat as die somertoets bekend staan, was destyds as buitengewoon laat in die jaar beskou.
Meer oor:  Cheetahs  |  Pro14-Reeks  |  Vrystaat  |  Weer  |  Sport  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.