Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Moeilike besluite wag op Dobson

Die deur is nie oor die naweek in die Westelike Provinsie se rugbyspan se gesig toegeslaan nie, maar die Kapenaars se afrigter, John Dobson, het groot besluite om te neem voor Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein.

Albei spanne sal dié wedstryd soos ’n eindstryd benader om te probeer seker maak dat hulle vir die halfeindronde kwalifiseer.

Damian Willemse kan die kastaiings dalk nog uit die vuur krap vir die Westelike Provinsie se Curriebeker-veldtog. Foto: Gallo Images

Dobson se hand sal aansienlik versterk word, want die spelers wat hy onverwags aan die Springbokke afgestaan het voor die afgelope Vrydagaand se wedstryd teen Griekwas, die vaskopstut Wilco Louw, heelagter Dillyn Leyds en haker Scarra Ntubeni keer almal terug.

Hy sal nietemin elders ook veranderings moet oorweeg, want die WP se vertoning in die nederlaag van 23-27 teen Griekwas het soms aan skokkend gegrens.

Jy is natuurlik ook net só goed as wat jou teenstander jou toelaat om te wees, maar ongedwonge foute soos dié van Josh Stander wat die bal van die afskop af regstreeks oor die kantlyn gesool het, is die soort ding wat uitgeskakel móét word.

Damian Willemse het goed gelyk nadat hy opgestuur is en behoort as losskakel gekies te word. As die WP skielik ’n hoë rat vind, sal dit van ’n speler met X-faktor soos hy móét kom.

Leyds se terugkeer in die laaste vesting behoort ’n gegewe te wees, maar hoe gemaak met die vleuels?

Dobson sal uit ’n taktiese oogpunt vir SP Marais met sy linkerstewel wil behou, maar sal in daardie geval een van Senatla of Sergeal Petersen moet weglaat, en boonop nie eens vir Edwill van der Merwe oorweeg nie.

Senatla het ondanks sy vaart ’n afdag dag in Kimberley beleef. Die gebrek aan konsentrasie wat hy soms getoon het – soos om rakelings voor die baldraer te hardloop in ondersteunende spel en die bal swak uit te gee – was tekenend van die WP se vertoning.

Om sy vaart in te boet, sal dalk as té ’n drastiese stap beskou word, maar reputasies moet ook nie in die pad van vooruitgang staan nie.

Voorlangs het Ntubeni ’n yslike leemte gelaat – nie net ten opsigte van hoe hy in die los woel nie maar ook in die vaste fasette.

’n Paar spelers het ook as’t ware onder die druk in Kimberley verdwyn. As hy fiks is, behoort Jaco Coetzee se terugkeer na die losvoorspeler-kombinasie ’n gegewe te wees. Dit kan straks loon om hom as agtsteman te kies en die belowende Nama Xaba as baljagterflank in te span.

JD Schickerling lyk ’n bietjie ontuis op flank en sal as ’n slot oorweeg moet word.

Maar voorspoed aan Dobson om daardie besluit te neem, want hy sal nie vir Salmaan Moerat of Chris van Zyl wil pos nie. Moerat was onder ’n handvol WP-spelers wat goed gevaar het teen Griekwas en Van Zyl is die kaptein.

Daar is inderdaad vir die WP se breier baie om oor te gaan nadink en ’n uiters gewilde afrigter gaan ter wille van oorlewing dalk ’n ongewilde besluit of twee móét neem.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Vrystaat  |  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.