Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Moeilike besluite wag op Kempson
Howard Mnisi het een van die Kings se twee drieë teen die Scarlets gedruk. Agter Mnisi is die Kings se kaptein, JC Astle. Foto: Gallo Images

Al het die Southern Kings Sondag in Wallis vir ’n lang ruk teen die Scarlets beter rugby as die vorige twee weke gespeel, wag daar vir die span se afrigters “moeilike besluite” voor die naweek se kragmeting met Connacht.

Die Kings het in Llanelli tot 20 minute voor die einde nog ’n kans gestaan om die Scarlets te verras, maar toe val hulle weer uitmekaar. Die Scarlets was eindelik met 36-17 baas ná hulle met die rustyd net met 12-10 voorgeloop het.

Sondag speel die Kings in nog ’n Pro14-wedstryd op hul tuisveld in Port Elizabeth teen Connacht.

“Daar was ’n klompie positiewe dinge om uit die wedstryd vorentoe te neem. As ons by ons wedstrydplan gehou het, kon dinge baie anders gewees het,” sê Robbi Kempson, die Oos-Kapenaars se waarnemende hoofafrigter.

“Die deurslaggewende foute van sekere individue het ons duur te staan gekom en daar is ’n paar moeilike besluite wat geneem sal moet word.”

As Kempson bedoel dat daar veranderinge aan die beginspan gemaak moet word, sal hy maar eers moet wag om te kyk hoe lyk die groep waaruit hy kan kies.

Die deurslaggewende foute van sekere individue het ons duur te staan gekom en daar is ’n paar moeilike besluite wat geneem sal moet word.
Robbi Kempson

’n Hele paar spelers is teen die Scarlets beseer. Helaas weier die Kings se bestuur om, soos ander franchises, weekliks meer inligting oor hul beseringslys bekend te maak, so ’n mens moet maar raai wat aangaan.

As Kempson weer na die wedstryd kyk, sal hy sien dat een van die span se staatmakers, die skrumskakel Stefan Ungerer, nie ’n wafferse wedstryd gespeel het nie. Sy besluitneming en taktiese skopwerk was wisselvallig.

Dis egter moeilik om hom te pos vir die volgende man in die ry, Josh Allderman. Allderman het baie potensiaal, maar hy is ook geneig om albei arms moedeloos in die lug te gooi in ’n poging om die skeidsregter se aandag op iets te vestig in plaas van om rugby te speel.

Die Kings het te veel balbesit by die kontakpunte afgestaan en is ook ’n paar keer in die lynstane ore aangesit.

Onder die ligpunte tel die vasbeslote lopies van die twee vleuels, Erich Cronjé en Christopher Hollis. Demetri Catrakilis het op losskakel beter vertoon en die skrumwerk was meestal stewig.

Die vurige losvoorspeler Thembelani Bholi het ook daarin geslaag om die span op die voorvoet te kry toe hy as plaasvervanger opgegaan het.

Meer oor:  Howard Mnisi  |  Robbi Kempson  |  Port Elizabeth  |  Beserings  |  Pro14-Reeks  |  Southern Kings  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.