Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Moerat hét bloedlyn vir Bok-trui

Genoegsame speelkans in die Stormers-trui staan tussen Salmaan Moerat en die moontlikheid om volgende jaar as die verrassingspakkie in die Springbokke se Wêreldbekergroep ingesluit te word.

In die Kaap ding hy weekliks met onder meer Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit, JD Schickerling en Chris van Zyl mee om ’n plek in die 23-tal. Soos die geval met Schickerling (22), is Moerat een van die jonges wat die Bok-bestuurspan met die oog op volgende jaar se Wêreldbeker in Japan dophou.

Salmaan Moerat

Die 19-jarige slot het sover vanjaar in albei die Stormers se oefenwedstryde teen die SWD-Arende en die Bulle gespeel. Hy het agterna goeie terugvoer ontvang en die keurders beïndruk.

Slot is wel een van die posisies waarin Suid-Afrika met spelers soos Lood de Jager, Franco Mostert, RG Snyman, Ruan Botha, ­Juandré Kruger en Flip van der Merwe oorgenoeg diepte het.

Moerat en sy werkgewer, die Westelike Provinsie, moet sy loopbaan goed bestuur as hy volgende jaar Japan toe wil gaan.

’n Opsie wat Moerat-hulle kan oorweeg, as hy nie gereeld die Stormers se 23-tal haal nie, is om hom aan Pro 14-spanne soos die Cheetahs en Kings te leen. Dit sal tot voordeel van sy rugby wees, aangesien hy die kans gebied word om aan speeltoestande in die Noordelike Halfrond gewoond te raak.

Moerat, wat 2 m lank is en 115 kg weeg, se CV bied op ’n jong ouderdom al goeie leesstof.

Die Paarliet het die Boland op o.13-vlak verteenwoordig, waarna hy die WP-trui op o.16- en o.18-vlak gedra het.

Hy is in 2015 en 2016 in die Suid-Afrikaanse skolespan ingesluit en was verlede jaar ’n lid van die Jong Bokkies. Moerat was in 2016 kaptein van die WP se Cravenweek-span en die SA skolespan.

Een van sy moeilikste uitdagings vanjaar is om die kopskuif te maak dat van sy rolmodelle nou sy mededingers is.

“Eben en Pieter-Steph is verseker rolmodelle vir my, soos hulle vir ander is,” het Moerat gesê.

“Dis ’n yslike voorreg om by spelers van wêreldgehalte soos hulle te leer. Ek sal probeer om dié gereedskap te gebruik om myself te verbeter en hopelik ’n aanspraakmaker in die groep te wees.”

Moerat sê sy insluiting in die Stormers se Super-groep is ’n droom wat waar geword het.

“Dis enige seun wat in die Wes-Kaap grootgeword het se droom.”

Die Moerats is ’n bekende familie in die Paarl en sinoniem met verskeie sportkodes oor die jare.

Sy pa, Nazeem, het in sy speeldae sowel die WP- as Boland-rugbytrui gedra. Nazeem het ook in die 1980’s Saru se nasionale span verteenwoordig. Verskeie van Salmaan se neefs en ooms het op ’n hoë vlak gespeel.

Sy woord is sy eer.
Sean Erasmus

“Die feit dat ek daagliks kan wakker word en probeer om ’n kinderdroom te vervul, en natuurlik die feit dat ek weet hoeveel dit vir my familie beteken, is my grootste dryfkrag in die lewe.

“As ’n jong seun het ek grootgeword in ’n familie wat van rugby hou. My pa het in die isolasiejare rugby vir Saru gespeel. Rugby was altyd die enigste sport vir my.

“Vir nou is dit my doel om my eers in die (Stormers-)groep te vestig. En dan, hopelik eendag as alles goed gaan, wil ek graag vir my provinsie en land speel – soos elke ander speler hoop.”

Sean Erasmus, sy voormalige afrigter by Boishaai, praat net met groot lof van Salmaan.

“Hy is op en van die speelveld af ’n rolmodel vir sy spanmaats,” het Erasmus gesê.

“Hy is ’n baie harde werker en ’n wonderlike leier.

“Sy woord is sy eer. Ek het verlede Saterdag die kragmeting tussen die Stormers en die Bulle, waarin hy gespeel het, bygewoon. Hy het baie goed gedoen.

“Sy verdediging is sy sterkpunt. Hy is baie akkuraat met die uitvoering van sy duikslae. Hy is baie aggressief by die afbreekpunte, presies wat jy van ’n slot verwag. Hy is ook ’n speler met ’n hoë werkverrigting en wat die basiese take van ’n slot reg uitvoer.

“Hy is ’n jong speler vir die toekoms. Hy sal eendag ’n baie goeie leier vir die Bokke wees.”

Meer oor:  Stormers  |  Springbokke  |  Salmaan Moerat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.