Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Moerat wil hof toe oor WP-skorsing
Junaid Moerat Foto: Die Son

Nog ’n week, nog ’n hofsaak.

Die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) kan hom dalk weer in die hof bevind omdat Junaid Moerat, geskorste lid van die uitvoerende raad, hom tot die hooggeregshof wil wend om sy skorsing tersyde te laat stel.

Sy prokureurs het teen Donderdag nog geen antwoord ontvang nie op ’n brief wat aandring dat die skorsing teruggetrek moet word.

Moerat is op 17 Februarie deur die president, Zelt Marais, geskors met die bewering dat hy inligting aan Rapport gelek het oor ’n beoogde samewerkingsooreenkoms met die Franse klub Stade Français.

Klagte is glo teen hom ingedien deur Tony McKeever, oud- uitvoerende hoof van die Southern Spears en vertroueling van Marais. Hy was glo agter die beoogde Franse ooreenkoms, wat deur die mat geval het.

Moerat is kort voor sy skorsing as waarnemende uitvoerende hoof van die WPRU se sakevleuel aangestel, maar Marais het die aanstelling met die skorsing gestaak. Ruben Machelm, Marais se persoonlike assistent, is daarna as waarnemende uitvoerende hoof aangestel by die WPRU en sy sakevleuel.

Moerat het aan Rapport gesê sy dissiplinêre verhoor is al vyf keer in vier maande uitgestel.

“My regspan het aan die WP geskryf en ons het nie teen Donderdagaand ’n antwoord van hulle ontvang nie. Daarom het ek geen ander keuse as om myself tot die hooggeregshof te wend nie,” sê hy.

Volgens die WP sloer die dissiplinêre proses omdat Moerat se regsverteenwoordigers vir uitstel gevra het om ’n sekondêre aansoek te bring.

“Ten spyte van die geleentheid om dit te doen, het mnr. Moerat se regsverteenwoordigers, sonder verduideliking, nie die aansoek teen die spertyd gebring nie. Onder die omstandighede sal die dissiplinêre tribunaal, soos ons dit verstaan, op 24 Junie voortgesit word,” het Marais deur ’n woordvoerder aan Rapport gesê.

“Die dissiplinêre tribunaal word onafhanklik bedryf. Met die aanvang daarvan het die unie nie beheer daaroor nie. Ons sou daarom sê dat geen doel gedien sal word deur oor die verdienste van die kwessie te bespiegel en of ’n saak gemaak is al dan nie. Dit is vir die dissiplinêre tribunaal om oor te besluit en ons vra al die betrokkenes om die proses toe te laat om sy gang te gaan.

“Mnr. Moerat se brief aan die unie, waarna verwys word, en dreigement van regsaksie om die tugproses te probeer afweer, is onbenullig. Sou sy dreigement ’n werklikheid word, sal die unie op die beste pad vorentoe besluit.”

Marais weier om die klagte teen Moerat te laat vaar, al het die uitvoerende raad hom opdrag gegee om dit te doen. Toe Rapport hom daaroor uitvra en sê dat daar notules is wat dit bewys, het hy geantwoord: “Dit is nie korrek nie, wees so gaaf om die notules met ons te deel.”

Volgens hom berus die saak nou by die tugkomitee en is dit uit die hande van die uitvoerende raad.

Ná Moerat se skorsing het dit aan die lig gekom dat die beëdigde verklaring waarop dit geskoei is deur McKeever opgestel is.

McKeever het kort daarna in ’n onderhoud erken hy het self vir die pos van uitvoerende hoof by WP aansoek gedoen en was die persoon agter die beoogde vennootskap met Stade Français.

Uit notules blyk dit dat die WP se uitvoerende komitee ontevrede was oor McKeever se betrokkenheid by die saak. Marais is op 29 Maart opdrag gegee om ’n “verklaring uit te reik wat die unie distansieer van sy uitlatings”. Dit het nooit gebeur nie.

Marais het by navraag gesê die uitvoerende komitee is tevrede dat die saak afgehandel is.

Die WP kan gedwing word om Moerat as waarnemende uitvoerende hoof aan te stel indien hy sy hofsaak wen.

Uitstel op uitstel op uitstel . . .
17 Januarie: Rapport berig oor die Stade Francais-ooreenkoms.
17 Februarie: Moerat word deur Marais geskors omdat hy glo inligting oor die ooreenkoms laat uitlek het. 
21 Februarie: Een van WP se klubs, Gordons Bay Pioneers, stuur ’n brief wat ’n mosie van wantroue in Marais vra oor onder meer die skorsing.
1 Maart: WP se uitvoerende komitee vra dat die skorsing tersyde gestel word. Marais weier.
4 Maart: Tugverhoor teen Moerat word uitgestel.
9 Maart: Tugverhoor vir ’n tweede keer uitgestel.
21 Maart: Rapport berig Moerat het ’n brief aan klubs gestuur wat Marais beskuldig van “laster en leuens”.
23 Maart: Verhoor ’n derde keer uitgestel.
8 April: Verhoor ’n vierde keer uitgestel.
14 April: Verhoor ’n vyfde keer uitgestel.
14 Junie: Moerat se prokureurs rig brief aan WP oor die verhoor.
17 Junie: WP antwoord nie op die brief teen die sperdatum nie. 

Meer oor:  Tugverhoor  |  Wpru  |  Uitstel  |  Junaid Moerat  |  Hooggeregshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.