Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Mohoje bevind hom straks in rugbywoestyn

Die Cheetahs se Springbok-flank Oupa Mohoje, wie se kontrak aan die einde van die maand met die franchise verstryk, kan hom moontlik in die rugbywoestyn bevind.

Die Springbok-flank Oupa Mohoje se paaie kan moontlik einde vandeesmaand met die Cheetahs skei.Foto: Gallo Images

Mohoje (29) het in September 2018 ’n ernstige kniebesering in die Cheetahs se eerste Pro14-wedstryd van die seisoen teen Munster in Limerick, Ierland opgedoen en het sedertdien nog nie weer rugby gespeel nie.

Hy is toe ook pas as kaptein vir die seisoen aangewys, maar na 13 minute se spel het ook dit tot ’n einde gekom.

Die flank sou na verwagting vroeër die seisoen sy terugkeer gemaak het, maar het ’n terugslag beleef met die knie wat net nie wou herstel nie.

Toe die Pro14-reeks vroeg vanjaar onbepaald opgeskort is, was dit gevolglik ’n gulde geleentheid vir Mohoje om saam met ander beseerde Cheetah-spelers volkome van hul beserings te herstel.

Hawies Fourie, hoofafrigter van die Cheetahs, het gister bevestig dat daar verlede jaar ’n aanbod aan Mohoje gemaak is. Fourie staan ook aan die hoof van kontraktering van die Cheetahs.

Die breier het voorheen ook aangedui dat sy plan was om Mohoje op slot in te span saam met nog ’n Cheetah-flank, Aidon Davis, wat self lank met beserings uit was. Davis het intussen sy terugkeer tot die speelveld, op agtsteman, gemaak.

“Ek het in November 2019 vir Oupa, via sy agent, ’n aanbod gemaak. Hulle het dit nie aanvaar nie en gesê hulle sal vir hom ’n beter aanbod by ’n ander unie kry,” sê Fourie.

Die Cheetahs se spelersbegroting is intussen gesny en Fourie sê hy kon nie weer vir Mohoje dieselfde aanbod as verlede jaar maak nie.

“Oupa is in September 2018 beseer en het nog nie weer gespeel nie. Dit is ’n groot risiko vir enige unie om hom ’n kontrak aan te bied. Volgens my kennis het hy nog nie ’n aanbod van ’n ander unie nie.

“Daar is planne agter die skerms om vir Oupa te help gedurende hierdie moeilike tyd,” sê die breier.

Mohoje het in 19 toetse vir die Springbokke gespeel. Hy het sy senior loopbaan in 2012 by die Griffons begin en het hom in 2013 by die Cheetahs aangesluit. Hy het reeds meer as 80 wedstryde vir die Vrystaat gespeel.

* Mohoje het nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Oupa Mohoje  |  Kontrak  |  Pro14  |  Cheetahs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.