Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Montpellier het sy oog op Cheika

Michael Cheika, voormalige Wallaby-afrigter, is glo in die visier om die leisels by die Franse rugbyspan Montpellier te neem.

Volgens die Franse koerant Midi Olympique is Cheika die eerste keuse van die miljardêr Mohed Altrad, die klub se eienaar, om Xavier Garbajosa, wat in Desember die trekpas gekry het, te vervang.

Michael Cheika Foto: Getty Images

Suid-Afrikaners soos Bismarck du Plessis, Paul Willemse, Jacques du Plessis, Cobus Reinach, Robbie Rodgers, Ruhann Greyling, Nicolaas Janse van Rensburg en Sergio Moreira is deel van Montpellier se groep vir die 2020-’21-seisoen.

Altrad is volgens stuff.co.nz al sedert 2019 geïnteresseerd in Cheika en het hom selfs vir dié pos oorweeg nadat die Nieu-Seelander Vern Cotter die klub verlaat het.

Cheika, wat die Wallabies tussen 2014 en 2019 afgerig het, kan Frans vlot praat.

Hy het vir die Franse klubspanne Castres en Stade Francais tussen 1989 en 1992 gespeel en daarna vir Stade afgerig tussen 2010 en 2012, voordat hy na Australië teruggekeer het om die Waratahs tot hul eerste en enigste Superrugby-titel te lei.

Hy het Mario Ledesma, Argentinië se afrigter, bygestaan in 2020 se Drienasies-reeks waar die Poemas die eerste keer die All Blacks geklop en ook gelykop teen die Wallabies gespeel het.

Cheika (53), wat van Libanese afkoms is, het ingestem om Libanon af te rig vir die 2021 Wêreldbeker-rugbyligatoernooi in Engeland.

Maar Midi Olympique berig dat Cheika die voorkeurkandidaat is vir Montpellier se afrigtingspos.

As hy die pos aanvaar, sal hy hom na verwagting in Junie by die klub aansluit.

Philippe Saint-André, ’n voormalige vleuel vir die Hane, wat ook tussen 2011 en 2015 die Franse nasionale span afgerig het, is Montpellier se direkteur van rugby en het oorgeneem as hoofafrigter toe Garbajosa afgedank is.

Die span is tweede laaste in die Franse Top14-liga. – Sportredaksie

Meer oor:  Montpellier  |  Michael Cheika  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.