Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Moodie: Van o.14 B tot Junior Bok

’n Paar jaar gelede toe die Junior Springbok Canan Moodie sy hoërskoolloopbaan by die Hoër Landbouskool Boland begin, moes hy aanvanklik daarmee tevrede wees om in die B-span diens te doen.

Vandag, in 2021, is Moodie (18), ’n vleuel, een van die nasionale o.20-span se skerpste angels in ’n vierhoekige reeks op tuisbodem. Hy het Vrydag twee drieë teen Uruguay in Stellenbosch in die Junior Bokke se eerste wedstryd gedruk.

Voet in die hoek! Canan Moodie op pad na een van sy twee drieë teen Uruguay. Foto: Gallo Images

Die nasionale span, wat teen Uruguay by tye maar met rukke en stote gespeel het, kom Woensdag teen Argentinië in die Eikestad te staan.

Iemand wat Moodie, wat by die Bulle gekontrakteer is, goed ken, is Oloff Bergh, afrigter van die Hoër Landbouskool Boland in die Paarl se eerste rugbyspan.

“Hy (Moodie) het o.14 en o.15 nog vir die B-span gespeel, en is eintlik iemand wat laat ontwikkel het. Toe hy o.16 was het hy vir die A-span begin speel, maar toe was hy nog nie wonderlik nie. Hy was baie beter, maar nog nie briljant nie,” sê Bergh.

“In graad 11 het hy vir die eerste span gespeel. Hy is iemand wat baie hard werk en baie nederig is.

“In sy matriekjaar sou hy een van ons staatmakers gewees het, ek dink hy het ’n goeie kans gestaan om vir die Cravenweek gekies te word. Maar weens Covid was daar toe mos nie ’n toernooi nie.”

Op hoërskool het Canan Moodie aanvanklik vir die B-span diens gedoen. Foto: Gallo Images

Bergh, wie se broer Pieter die Bloemfonteinse studentespan die Ixias brei, is vol lof vir Moodie, wat in 2020 nog op die skoolbanke was, se vaardighede.

“Omdat hy lank is (1,91 m), is hy goed in die lug wanneer dit by skoppe kom. Dit is hoekom hulle hom by die o.20’s op vleuel kies. Hy beskik ook oor goeie hande, spoed en sy voetwerk is ook goed,” sê Bergh.

“Daar is nog dinge by hom wat kort. Hy moet nog meer fisiek raak en sy kragwerk moet verbeter. Maar wat hom ook goed maak is dat hy ’n baie goeie voorgevoel het.”

Teen die Argentyne sal daar geen wegkruipplek vir die Junior Bokke wees nie, aangesien die einste Jong Poemas Georgië Vrydag met 82-10 verorber het.

Bafana Nhleko, afrigter van die nasionale o.20-span, het ’n paar groot kanonne, soos George Cronjé (agtsteman), André-Hugo Venter (haker) en Jan-Hendrik Wessels (stut), wat almal vir die laaste wedstryd op die plaasvervangersbank was, nadergetrek vir die kragmeting teen Argentinië.

Junior Springbokke: Quan Horn, Canan Moodie, Henco van Wyk, Tyler Bocks, Ethan James, Jordan Hendrikse, Bradley Davids, George Cronjé (k), Siya Ningiza, Siyemukela Ndlovu, Reinhardt Ludwig, Simon Miller, Corné Weilbach, André-Hugo Venter, Jan-Hendrik Wessels. PLAASVERVANGERS (uit): Jacques Goosen, Nolan Pienaar, Sibusiso Shongwe, Raynard Roets, Rynard Mouton, Nico Steyn, Sacha Mngomezulu, Mnqobi Mkhize, Dylan de Leeuw, Izan Esterhuizen, Kian Meadon, Dalvon Blood.

Afskop: 15:00 (SS Rugby).

Skeidsregter: Griffon Colby


Meer oor:  Junior Bokke  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.