Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Mordt glo ‘Blou Leeus’ nie so vergesog

Die idee dat die Leeus en die Blou Bulle in die toekoms kan saamsmelt, is nie so vergesog as wat dit mag klink nie.

So sê Ray Mordt, gewese Springbok-vleuel, wat vir albei dié unies gespeel het.

Ray Mordt sê die idee om die Bulle en Leeus in een span saam te gooi, is glad nie so belaglik as wat dit deur sommiges afgemaak word nie. Foto: Gallo Images

“Die wêreld verander vinnig en dit sal my glad nie verbaas as dit wel eendag gebeur nie.”

Hy het gereageer op die omstrede voorstel van die voormalige Springbok-afrigter Nick Mallett dat hierdie twee tradisieryke unies as een gevestig moet word in ’n poging om spelersgetalle te midde van die impak van die Covid-19-pandemie te verminder.

Mallett moes behoorlik koes vir al die klippe wat na hom gegooi is oor wat allerweë beskou is as ’n ondeurdagte stelling wat as niks anders as belaglik afgemaak kan word nie.

Mordt sê egter hy verstaan baie goed waar Mallett vandaan kom.

“Ek dink nie dit is so ’n verregaande idee nie. Ek weet die tye is baie moeilik en daar is ’n groot finansiële las op albei unies. Daar is ook altyd plek vir verandering in ons samelewing en hoekom nie dan ook in die rugbygemeenskap nie?” vra hy.

“Daar gaan dalk wel in die toekoms ’n tyd kom waar daar om ’n tafel gesit moet word en hierdie moontlikheid baie sterk oorweeg word. Ek weet nie in hierdie stadium wat die finansiële posisie van die twee unies is nie, maar dat daar wel groot druk is, is gewis.”

Mordt sê hy sal net nie wil sien dat daar ’n oorhaastige besluit oor iets so sensitief gemaak moet word nie.

Daar is altyd plek vir verandering, maar moet dit nie halsoorkop doen nie. Ek sal graag wil sien dat albei unies hierdie finansiële storm oorleef waarin hulle hulle dalk kan bevind.

“Jy weet nie hoe lank hierdie krisis nog kan duur nie, maar daar is genoeg finansiële breinkrag om dit hopelik te kan oorleef. Albei unies het ook baie goeie rugbyskole wat die voedingsbron kan wees en hul junior strukture aan die gang kan hou.”

Mordt, wat in die eertydse Rhodesië grootgeword het, het van 1981 tot 1983 vir Transvaal (nou Leeus) gespeel en toe in 1984 en 1985 vir Noord-Transvaal (Blou Bulle).

“Dit was vir my ’n groot eer om by albei provinsies betrokke te wees en elkeen het ’n baie ryk tradisie en geskiedenis, wat ek besef hulle wil laat voortleef. Tog moet ’n mens realisties wees en besef sou dinge so sleg raak, sal daar sterk oorweging moet wees om dalk saam te smelt,” sê Mordt.

“In Jake White het die Bulle ook nou een van die vyf beste afrigters ter wêreld. Hy is uitgeslape en weet presies wat hy wil hê.”

Glo hy Suid-Afrika gaan ’n groot agterstand teenoor die Nieu-Seelandse All Blacks hê wanneer hulle uiteindelik weer op die veld kan kom, teenoor die Kiwi’s wat al geruime tyd sommer volstoom aan die gang is?

“Ek dink nie ons moet ons te veel bekommer nie. Ons moet net stewig staan en ek wil nie graag vergelykings tref tussen ons en Nieu-Seeland nie,” sê hy.

“Nieu-Seeland het die pandemie goed hanteer en geluk aan hulle daarmee. Die spel floreer by hulle. Hier in Afrika is daar andersoortige uitdagings. Al gaan ons nie vanjaar hier toetsrugby speel nie, wil ek nie te onrustig raak daaroor nie.”

Hy glo Suid-Afrika gaan ’n baie positiewe en produktiewe Curriebeker-reeks hê wanneer dit begin en dit gaan opwindend wees.

“Die belangrikste is egter nou om eers die land uit te sorteer wat die pandemie betref.”

Meer oor:  Leeus  |  Bulle  |  Superrugby  |  Nick Mallett
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.